Pasop as jou naam eers op die lys agterin die Blou Boek verskyn …
Die Bronkhorst-gesin van Vredenburg het baiekeer na die lys van name agterin een van ma Marinda se blou boeke met koerant- en tydskrifuitknipsels verwys as ’n plek waar jy nie wil hê jóú naam moet verskyn nie. Want as jou naam eers daarin opgeteken is, beteken dit dat jy afgesterf het.
Só vertel Lizl Ryan (49) oor dié klomp Blou Boeke waaruit Weslander in die komende maande so ’n paar berigte gaan uitlig om weer na ou nuusgebeure te kyk.
Marinda het getrou in die jare tagtig en negentig stories wat vir haar interessant was uit Weslander, Die Burger, Rapport en selfs Huisgenoot geknip. Ook doodskennisgewings, verjaarsdae en gelukwensings is ingeplak in bloukleurige plakboeke.
Lizl vertel dat haar ma soms die knipsels sou laat ophoop, en dan, wanneer sy weer ’n buisie Pritt in die hande kry, sommer die hele kaboedel inplak, soos hulle op die hopie lê, nie noodwendig chronologies nie.
Eddie Bronkhorst (72), Lizl se pa, het so ’n maand of wat gelede vir haar die plakboeke gegee. Marinda is op 28 Mei 2021 in die ouderdom van 65 oorlede nadat sy jare lank, sedert 2016, siek en bedlêend was.
Lizl verwonder haar nog elke dag aan die uitknipsels, en probeer soms haar ma se denkwyse ontrafel: Wat het haar laat besluit watter stories ’n Blou Boek waardig is? Waarom het sy ander berigte gelos?
Die Bronkhorst-egpaar is in 1977 getroud en het ook ’n seun, Jacques (44), wat sedert 2020 in Nieu-Seeland bly. Die egpaar het eers ’n draai in Vanderbijlpark gaan maak voordat hulle in 1984 weer vir goed teruggetrek het Weskus toe.
Dit was hierna dat Marinda met die uitknippery begin het.
Die versameling knipselbundels is vir Lizl ’n kosbare kleinood; ’n herinnering aan haar ma waaraan sy kan vat. Wat sy elke nou en dan oopmaak en deurlees. En nou kan sy die versameling knipsels met Weslander-lesers deel.
’n Paar berigte uit Weslander en Rapport oor ’n predikant van die NG moedergemeente trek aandag, hoewel daar nie ’n datum by is nie: Die herrie het begin oor ds. Louw Pieterse se “nuwerwetse idees” wat die ouer garde dwars in die krop gesteek het – en ’n paar ander “gerugte”. Daar was groot ontsteltenis in die kerkgeledere omdat hy “nuwe vorme van aanbidding” in sy eredienste toegelaat het, soos kitaarspel. Die orkes wat by jeugdienste opgetree het en ’n baskitaar, kitaar, dwarsfluit en ander instrumente gespeel het, “is net één van die dinge wat vir die onmin in die gemeente verantwoordelik is”.
Daar was glo tweespalt tussen die jonger lede wat ten gunste was van Pieterse se “vernuwing wat hy by sy preekbeurte probeer invoer het,” en die ouer garde wat “beswaard” gelaat is. Pieterse het ook “kerkgangers toegelaat om hande omhoog die Here te aanbid”. Sy aanhangers het gemeen dat sy “nuwe idees” vir ’n groot toename in kerkbywoning gesorg het.
Pieterse is “summier in sy amp gestuit”, ook oor bewerings van aanranding.
Verskeie Vredenburgers het in die ondersoek kom getuig, onder meer Ina Roux, matrone by Huis Wittekruin. Pieterse is uiteindelik ontslaan, maar kon later aansoek doen om weer in sy amp herstel te word.