Met ’n pragtige swart Blomme & Bubbles-sakkie, ’n naweekpaspoort en ’n wynglasie om die nek het die besoek aan dié lentefees in Paternoster, wat Vrydag 6 September begin het, afgeskop.
Blomme & Bubbles het vir ’n tweede jaar weer wyd aftrek gekry. By die eerste wynstalletjie in die kunsgalery is aan drie soorte witwyn geproe en elke paspoort het ’n stempeltjie gekry om aan te dui dat die besoeker daar was.
Langsaan het ons by Wow E-bikes valhelms gekry en is een kortgatsitplek opgesit.
Ek het gedink ons gaan volgende in styl deur die res van die dorp ry, soos wafferse toeriste, en foto’s neem by die ander 13 punte op die kaart wat met blomme, ballonne en bubbles verfraai is. Oral waar ’n mens kon wyn proe en bestel, lekker eet en selfs bonusstempeltjies kry om onder meer ’n meermin raak te loop.
In St. Augustine-straat draai ons drie gidse – Angelo September, Lianco Jansen en Daniel Petersen – egter regs, uit Columbine-natuurreservaat se kant toe.
Ons kollega Chantell Cornelissen lag – sy het vooraf geweet dat ons eintlik op ’n “bergfietsuitstappie” deur die reservaat oor sand, klippe en tussen rotse deur sou ry.
Dankie tog vir die elektriese battery in elke fiets en daai hupstoot-knoppie vir opdraandes. Dit beteken fietsryers van enige ouderdom en fiksheidsgraad kan die asemrowende natuurtonele beleef en dele van Tietiesbaai sien wat selfs gesoute kampeerders in die gebied dalk nog nie gesien het nie.
Met die fotonemery het die uitstappie ons sowat ’n uur en ’n half geneem. Daar is ook nog ander roetes om te neem.
Terug by die Paternoster-waterfront wemel die dorp reeds van besoekers én inwoners wat hulle almal met die glasie om die nek gereed gemaak het vir ’n naweek van pret én wyn – vir sommige besoekers sommer baie wyn as so na die uitgestrekte gaste op reusekussings onder sonsambrele gekyk is.
Die paspoorte is aan die einde van die naweek ingegee om vir verskeie gelukstrekkings te kwalifiseer.
Volgens die organiseerders Arno Hattingh en Pieter Steynvaard is 1 050 kaartjies vir Blomme & Bubbles vanjaar verkoop. Wynmakers wat deelgeneem het, het net komplimente vir die organiseerders. Verskeie wynmakers het die entoesiasme en gasvryheid uitgewys en Blomme & Bubbles beskryf as “een van die bes georganiseerde feeste” nog.