Altesaam 20 mense is vermoor en 27 pogings tot moord het in die maand Oktober in die Weskus-polisiedistrik plaasgevind.

Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het ’n opsomming van die moord- en poging tot moord-sake wat in Oktober in dié gebied plaasgevind het met Weslander gedeel. Sy sê geweld gedy tans aan die Weskus en dis uiters kommerwekkend.

“Maar die goeie nuus is dat daar reeds inhegtenisnemings in die meeste van hierdie sake gedoen is,” voeg sy by.

Poging tot moord

. Oktobermaand het met ’n poging tot moord in Malmesbury begin. Twee mans het skuins ná 20:00 mekaar in ’n rusie getakel. Die een man (31) se skedel is in die proses gebreek en hy moes 20 steke kry om die wond aan sy kop te heg. Die verdagte is in hegtenis geneem.

. Op 2 Oktober om 01:00 is ’n vrou (20) skrams raakgeskiet.

. ’n Man (23) van ’n plaas in Riebeek-Wes is op 9 Oktober aangekeer nadat hy ’n man van dieselfde plaas met ’n mes in die nek gesteek het.

. Ook op 9 Oktober het ’n tiener (18) van Malmesbury ’n man (22) met ’n panga aangeval. Die slagoffer het oop wonde aan sy gesig en been opgedoen. Die verdagte is in hegtenis geneem.

. In Saldanha is ’n verdagte (25) vir poging tot moord in hegtenis geneem nadat hy ’n man (32) geskiet het.

. Op 15 Oktober om 21:55 is twee mans, onderskeidelik 22 en 21 jaar oud, in Yorkstraat, Malmesbury, met skietwonde aan hul bene gevind.

. Op 16 Oktober om 08:00 in Darling het ’n man (44) sy vriendin (25) in ’n stryery met ’n mes gesteek.

. In Vredenburg op 17 Oktober is ’n poging tot moord- en ontvoeringsaak oopgemaak nadat twee mans, onderskeidelik 26 en 25 jaar oud, ’n tienerseun (18) om 16:55 vasgekeer, hom in ’n taxi gedwing en met hom weggery het. Die tiener is later in ’n ander taxi gedwing waar hy aangerand en daarvan beskuldig is dat hy voertuigbande gesteel het. Die verdagtes het gaan petrol koop waarna hulle met die tiener na die stortingsterrein in Ongegund gery het. Hulle het die petrol oor die klaer gegooi, maar hy kon daarin slaag om van die toneel te vlug. Die twee mans is in hegtenis geneem.

. ’n Tienermeisie (18) van Saldanha is op 22 Oktober om 22:15 in ’n skietvoorval gewond. Die presiese omstandighede en oorsaak word nog ondersoek.

. In Piketberg is ’n vrou (42) aangekeer nadat sy op 23 Oktober om 14:00 haar vriend (35) met ’n mes gesteek het. Die man het betyds mediese behandeling ontvang.

. Op 24 Oktober in Saldanha om 20:25 is ’n seun (13) in die hand geskiet. Sy aanvaller (20) is in hegtenis geneem.

Moord

. Op 8 Oktober is twee mans vermoor, onderskeidelik in Darling en in Eendekuil. In al twee gevalle is verdagtes in hegtenis geneem.

. Op 9 Oktober omstreeks 17:00 het Malmesbury se polisie op ’n klagte dat iemand met ’n mes gesteek is gereageer. Met die polisie se aankoms in Zolastraat, Ilingelethu in Malmesbury, het hulle die lyk van ’n vrou (28) in die straat aangetref. ’n Ooggetuie het die polisie genader en hulle meegedeel dat sy en die oorledene vriendinne was en dat sy ook ’n meswond opgedoen het deur dieselfde verdagte. Die gemeenskap het die verdagte beetgekry en aangerand voordat die polisie hom in hegtenis geneem het. Hy is van moord en poging tot moord aangekla.

. ’n Man (39) van Malmesbury het op 10 Oktober in die hospitaal beswyk. Hy het wonde aan sy hoof en linkerbeen gehad. Die ondersoek na sy moord duur voort.

. In Vredendal is ’n man (32) vir die moord op ’n ander man (29) in hegtenis geneem. Die oorledene is op 11 Oktober in sy woning met drie skietwonde aan sy nek gevind.

. Op 15 Oktober om 08:42 is die lyk van ’n bekende sakeman van St. Helenabaai op ’n besigheidsperseel gevind. Die ondersoek duur voort.

. Die Saldanha-polisie het gereageer op ’n skietvoorval op 15 Oktober om 05:30 wat plaasgevind het in Harvestsunstraat, Saldanha, waar ’n man (30) op die toneel oorlede is.

. ’n Man (47) van Vredenburg is op 15 Oktober om 20:40 voor sy woning doodgeskiet.

. Op 16 Oktober om 01:00 is die liggaam van ’n jong man (22) van Citrusdal op straat gevind. Die man het steekwonde aan sy bors gehad.

. ’n Man van Vredendal is in hegtenis geneem nadat hy die polisie op 16 Oktober om 06:30 vergesel het na die huis waar sy meisie se liggaam gevind is. Die oorledene het sigbare wonde aan albei kante van haar gesig gehad en sy het met haar gesig teen die grond gelê. Die man het eers beweer dat hy nie vir haar dood verantwoordelik was nie, maar sy klere was vol bloedspatsels.

. ’n Stryery in Piketberg op 21 Oktober het tot ’n moord gelei. ’n Vrou (24) het die oorledene (23) met ’n mes in die nek gesteek. Die oorledene is in die hospitaal dood.

. ’n Moordbeskuldigde (44) van Vredendal het op 21 Oktober aan sy familie erken dat hy iemand met ’n mes gesteek het, maar nie weet hoe ernstig dit is nie. Die polisie het op die liggaam van die slagoffer (38) in Ultrasingel in Vredendal-Noord afgekom. Hy is in die nek gesteek.

. Tydens ’n rusie op 22 Oktober om 11:45 het ’n jong vrou van Graafwater ’n bottel gegryp en na haar vriend gehou in ’n poging om hom af te weer. Die bottel het egter gebreek en terselfdertyd wou die oorledene haar plat druk teen die grond toe die bottel ’n slagaar onder aan sy regterarm deurboor het. Die oorledene het op die toneel aan sy wond beswyk.

. In nog ’n onderonsie op 23 Oktober is ’n man (27) van Moorreesburg in die Swartland-hospitaal oorlede. Sy vriendin (23) het hom met ’n mes gesteek nadat hy haar aangerand het.

. Twee omstanders het op 24 Oktober om 12:50 ’n man (45) van Malmesbury gegryp en aangerand omdat dié eers weggehardloop het nadat hy ’n vrou (47) in Bokomoweg met ’n mes gesteek het. Die vrou is op die toneel oorlede.

. Twee jong mans van Saldanha is deur die polisie vasgetrek nadat hulle op 24 Oktober om 21:40 ’n man (42) in Diazville geskiet het.

. In Malmesbury is ’n vrou (35) wat ongeveer ses maande swanger was deur haar voormalige vriend met ’n hamer doodgeslaan. Die vrou is ook in die gesig geskop ná ’n rusie oor geld. Die man (28) is in hegtenis geneem.

. ’n Vrou van Porterville (42) is in hegtenis geneem nadat sy ’n man (35) met ’n mes in die bors doodgesteek het.

. ’n Stryery tussen twee mans, onderskeidelik 30 en 23 jaar oud, op 29 Oktober om 20:10 het daartoe gelei dat een van die mans (23) die oorledene met ’n mes in Takkies Branderstraat, Riebeek-Wes, doodgesteek het.

. Drie verdagtes, ’n vrou en twee mans, is aangekeer ná die moord van ’n man (34) van Saldanha op 30 Oktober.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025