Die laaste hersiening van die Elandsfontein-myn se waterlisensie is weer uitgestel.
Die Weskus-omgewingsbewaringsassosiasie (Woba) sal nou in Desember sy laaste appèl teen dié myn se waterlisensie voor die departement van water en sanitasie se watertribunaal bring.
Die plaaslike bewaringsgroep het vir die eerste keer in Junie 2017 kapsie teen die Kropz-beheerde myn se waterlisensie gemaak.
Dié groep meen die departement het die lisensie, wat in April 2017 uitgereik is, toegestaan ten spyte van gebrekkige inligting.
Volgens Kropz is alle nodige prosedures gevolg. Vanjaar het Woba ’n datum gekry om voor die departement se watertribunaal te verskyn om sy saak te stel.
Die verhoor het Dinsdag 22 Oktober begin en is nou tot 11-13 Desember uitgestel.
Indien die departement die waterlisensie terugtrek, sal mynbedrywighede glad nie kan voortgaan nie.