Dr. Joseph Joshua behandel ‘n pasiënt in sy gratis tandkliniek. Foto: Weslander-argief

Dr. Joseph Joshua is terug in die Weskus met sy gratis tandartsdiens. Joshua het ‘n tandheelkundige praktyk in Nederland, maar keer jaarliks terug na sy tuisdorp om gratis tandsorg te verskaf.

Joshua se eerste kliniek is in 2012 in Saldanha gehou. Later het hy na ander plaaslike dorpe uitgebrei, met duisende wat van hierdie gratis diens gebruik maak.

Vanjaar begin die tandheelkundige kliniek op Maandag 4 Augustus en dit sluit op Saterdag 16 Augustus.

Joshua sê hierdie inisiatief is belangrik vir die gemeenskappe aan die Weskus – veral vir diegene wat nie basiese dinge kan bekostig nie.

“As jy nie kan bekostig om jouself te voed nie en jy is werkloos, hoe kan jy Vredenburg toe reis om die basiese diens by die Louwville-kliniek te kry? Tog behandel die staat die ergste probleem eers op ‘n afspraakdiens,” sê hy.

Daarom wil Joshua ingryp en so goed as moontlik help. Pasiënte sal oggendsop en brood ontvang, asook ‘n worsbroodjie, sap en vrugte later in die dag.

Pasiënte wat die kliniek wil besoek, moet onthou om hul identiteitsdokumente saam te bring. Kinderkliniekkaarte moet ook saamgebring word.

Van Maandag 4 tot Vrydag 8 Augustus sal die tandheelkundige kliniek by Dial Rock in Saldanha wees, Maandag die 11de tot Woensdag die 13de by die Steenberg’s Cove-gemeenskapsaal en Donderdag 14 tot Saterdag 16 Augustus by die Noordhoek-gemeenskapsaal.

• Stuur e-pos na info@tpnieuwesteen.nl of stuur ‘n WhatsApp na 062 426 0793 vir nog inligting oor Joshua se gratis diens.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025