‘Besoedeling ergste in dekades’

Die lugbesoedeling van Oceana se visinmaakfabriek in Laaiplek is die ergste in dekades kla inwoners van die Weskusdorp. Dertien klagtes is die afgelope kwartaal by hul Amawandle-visfabriek gerapporteer en sluit in ’n ondraaglike stank, digte rookwolke wat ook erg stink en sig belemmer, ’n asreën wat deurlopend uitsak en aan alles vaskleef, selfs geraasbesoedeling.


Die lugbesoedeling is glo die ergste in dekades.
Só het inwoners Woensdag 24 Mei in ’n openbare vergadering by die Amawandle-visfabriek in Laaiplek gesê.

Titiana Stefanus-Zincke van Oceana sê inwoners van Laaiplek het die reg om te kla oor besoedeling.

Die Oceana-groep het onlangs dié fabriek, voorheen bekend as Marine Products, gekoop en die mense by die vergadering wou weet wat Amawandle anders doen dat die besoedeling in die afgelope paar maande soveel erger as voorheen is.Dertien klagtes is die afgelope kwartaal by Amawandle gerapporteer en sluit in ’n ondraaglike stank, digte rookwolke wat ook erg stink en sig belemmer, ’n asreën wat deurlopend uitsak en aan alles vaskleef, selfs geraasbesoedeling.

Daar is ook gekla dat die Bergrivier se water naby die hawe skielik besonder olierig is. Leatisha Ellis sê hulle moes onlangs ’n dik vetlaag van die romp van ’n boot afkrap nadat dit in die water was en Ellis sê ook die strande “blink” van al die uitgespoelde olie. 
Titiana Stefanus-Zincke, omgewingsrisikobestuurder by Oceana, wat ’n voorlegging by die vergadering gedoen het, het aan die gegriefde inwoners gesê hul het ’n reg om te kla en dat die maatskappy deurlopend na oplossings soek om besoedeling te verminder. Sy erken dat daar beslis iets omtrent die fabriek se aktiwiteite is wat lugbesoedeling (veral met betrekking tot steenkoolas) vererger en ’n ondersoek is van stapel gestuur om te bepaal wát die oorsaak is.
Dié tipe steenkool wat gebruik word by Amawandle is glo nie die oorsaak nie, want Stefanus-Zincke sê dieselfde steenkool word ook in hul ander fabrieke, onder andere Lucky Star in St. Helenabaai, sonder probleme gebruik.
Die maatskappy word ’n hoër prys betaal vir varser vismeel met ’n laer nitraattelling. As vis lank lê stink die verwerking daarvan meer en daarom mik Amawandle om ná ’n vangs vinnig die produk tot vismeel te verwerk.

You need to be Logged In to leave a comment.