Troeteldiere bring vreugde, geselskap en beskerming, maar net soos mense kan honde en katte siek word. Sommige siektes is ernstig of selfs dodelik, veral sonder tydige mediese sorg. ‘n Doeltreffende manier om troeteldiere hierteen te beskerm, is inentings.
‘n Inenting (entstof) is ‘n vloeistof wat deur ‘n veearts of dieregesondheidswerker toegedien word. Dit bevat ‘n verswakte of dooie vorm van ‘n kiem, of soms slegs ‘n deel daarvan. Dit maak die dier nie siek nie, maar leer die immuunstelsel om die siekte te herken en te bestry. Wanneer die werklike siekte aanval, is die liggaam reeds voorbereid.
Inentings keer dat diere ernstige siektes opdoen en verder versprei. Een besmette dier kan baie ander aansteek. Die indivi-
duele dier word nie net deur inenting beskerm nie, maar ook ander diere en mense in die omgewing.
In Suid-Afrika vereis die wet dat honde en katte teen hondsdolheid ingeënt moet word.
Hondsdolheid is ‘n dodelike siekte wat ook mense kan besmet. Die departement van landbou hou jaarliks veldtogte om hierdie siekte te bekamp.
By honde is die belangrikste inentings dié wat beskerm teen hondsdolheid, parvovirus (katgriep), distemper (hondesiekte), asook hepatitis en leptospirose.
Hondsdolheid is ‘n virus wat die senuweestelsel aanval en altyd dodelik is.
Parvovirus veroorsaak braking, diarree en kan vinnige dood by klein hondjies veroorsaak. Distemper tas die asemhaling, spysvertering en selfs die brein aan. Hepatitis en leptospirose is bakteriese of virale siektes wat die lewer en niere beskadig.
By katte bied inentings beskerming teen katte-snuif, panleukopenie en hondsdolheid. Katte-snuif word deur rhinotracheitis en calicivirus veroorsaak en is ‘n aansteeklike respiratoriese siekte.
Katte-panleukopenie is ‘n dodelike siekte wat veral jong katjies tref. Katte kan ook hondsdolheid opdoen en versprei.
Hondjies en katjies kry hul eerste inentings gewoonlik tussen ses en agt weke oud. Daarna volg opvolginentings elke paar weke totdat hulle genoegsame beskerming opgebou het. Volwasse honde en katte het jaarlikse “booster”-inentings nodig om die immuniteit op datum te hou.
As ‘n eienaar onseker is oor die status van sy dier, kan ‘n veearts of betroubare dierewelsynorganisasie geraadpleeg word. ‘n Dier moet voor inenting gesond en goed gevoer is. ‘n Siek dier moet eers herstel voordat die entstof toegedien word.
Die meeste troeteldiere ervaar geen ernstige newe-effekte nie. Soms kom ‘n ligte seerheid by die inspuitplek of ‘n dag se lomerigheid voor. Hierdie reaksies is van korte duur en nie gevaarlik nie. Die risiko’s van die werklike siektes is veel groter.
Plaaslike dierewelsynorganisasies en munisipaliteite reël gereeld inentingsdae waar eienaars hul diere teen lae koste of selfs gratis kan laat inent. Tydens hierdie
veldtogte word ook raad en hulp oor ontwurming en behandeling teen vlooie en bosluise verskaf.
Wanneer ‘n groot deel van die troeteldiere in ‘n gemeenskap ingeënt is, word die verspreiding van siektes drasties beperk. Dit lei tot minder siek diere, minder risiko vir mense en ‘n veiliger omgewing.


