‘Besigheids- en sosiale ontwikkeling gaan hand aan hand’

Besigheidsontwikkeling kan net plaasvind wanneer sosiale ontwikkeling gebeur. Dit was die boodskap van Worcester-sakeman, Sheraz Rayban, die gasspreker by die Weskus Sakekamer se maandelikse netwerkgeleentheid, wat verlede Donderdag 23 April […]


Besigheidsontwikkeling kan net plaasvind wanneer sosiale ontwikkeling gebeur.

Dit was die boodskap van Worcester-sakeman, Sheraz Rayban, die gasspreker by die Weskus Sakekamer se maandelikse netwerkgeleentheid, wat verlede Donderdag 23 April by Paternoster Lodge gehou is.

Rayban se boodskap was veral relevant ná ’n voorlegging van polisie-groepshoof, kol. Jakkie von Litsenborgh, oor die stand van plaaslike misdaad.

“Vanjaar wil ons nie net daarop fokus om misdadigers te vang nie, maar ons wil by die gemeenskappe uitkom en kyk of ons die sosiale probleme wat tot misdaad lei, kan aanspreek om dit te bekamp,” het Von Litsenborgh verduidelik.

Die afgelope boekjaar het inbrake by sakepersele afgeneem, maar kabeldiefstal bly ’n kopseer met byna R3 miljoen se koperkabels wat die afgelope boekjaar gesteel is.

Rayban het in sy praatjie genoem dat misdaad ’n struikelblok vir besigheidsgroei kan wees, maar ook die rol wat besighede kan speel om misdaad te bekamp, uitgewys.

“Dit is krities om te kyk na hoe mense dink. Indien ons verandering wil aanbring – hetsy in ons besigheid of gemeenskap – moet mense se denkwyse eers verander voor hul aksies sal verander,” het Rayban gesê.

Sy praatjie, “Enterprise Development – The Human Factor,” het gehandel oor die belangrikheid van ’n kopskuif teenoor nuwe, groter besigheidstrategieë.

“Sommige mense het ’n slagoffer-mentaliteit in die lewe. Hulle wag vir iemand om hulle te red, maar dit moenie die geval wees nie. Ons moet saam met die gemeenskap werk om selfonderhoudend te wees.”

Volgens Rayban beteken ’n beter gemeenskap beter werknemers wat op hulle beurt beter werkgewers kan word.

Die sakekamer het ook hul nuwe webblad bekendgestel.

Dié nuwe webblad sal die nuutste sakenuus en netwerkgeleenthede hê en ’n ruimte bied waar besighede kan adverteer.

Die webblad is tweetalig om meer belangstellendes te lok, het Dirk Bezuidenhout, wat in beheer van die webtuiste is, gesê.

Die webblad kan by www.weskussakekamer.co.za besoek word

You need to be Logged In to leave a comment.