Bergrivier stel Ekonomiese Ontwikkelingsforum bekend

Plaaslike ekonomiese ontwikkeling is van kardinale belang as Suid-Afrika ekonomies wil herstel.


Plaaslike ekonomiese ontwikkeling is van kardinale belang as Suid-Afrika ekonomies wil herstel.

Dit is die mening van Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA.

Van der Rheede was die gasspreker by die bekendstelling en stigting van Bergrivier-munisipaliteit (BM) se Ekonomiese Ontwikkelingsforum (EDF).

Die geleentheid is Donderdag 5 November by die Org de Rac-wynlandgoed buite Piketberg gehou.

Verskeie plaaslike besighede, NRO’s, skole, polisiekantore en sakekamers het die geleentheid bygewoon.

“Plaaslike ekonomiese ontwikkeling is ’n benadering tot volhoubare ekonomiese ontwikkeling wat moet lei tot ’n verbetering in die kwaliteit van lewe vir almal in die plaaslike gemeenskap. Dit moet geskied deur middel van besigheidsontwikkeling, om beleggings te lok en die direkte en indirekte skepping van werksgeleenthede,” aldus ’n voorstel van BM.

“Deur middel van plaaslike ekonomiese ontwikkeling sal ons entrepreneurs skep,” het Van der Rheede aangevoer.

“Ons kan al die grond uitdeel en kiste geld uitdeel, maar ons mense het ’n gebrek aan idees (om geld te maak). “Ons moet vra of ons plaaslike munisipaliteit besig is om ’n omgewing te skep waar entrepreneurs kan groei?”

Van der Rheede het ook plaaslike besighede en BM gemaan om private eienaarskap terug aan die gemeenskap te gee.

“As mense nie eienaarskap het nie, het hulle niks om te verloor nie. Ons gaan bereid moet wees om dapper stappe te neem.”

Aletta van Sittert, bestuurder van strategiese dienste by BM, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Regerings (Salga), het ’n voorstel voorgehou en besighede aangemoedig om in te koop by die idee van die EDF.

Van Sittert het nege projekte genoem waar BM hoop om by die EDF baat te vind.

Die projekte sluit onder meer ’n meesterplan vir landbou en grondhervorming in, ’n openbare vervoerstelsel, Bergrivier se eie Yellow Pages en die ontwikkeling van informele handel.

Vier werkkomitees is na afloop van die toesprake gestig, wat sal help om die EDF op die been te bring.

Die komitees sal onder meer omsien na die bestuur en die funksies van die EDF, landbou en landbou-verwerking, ontwikkeling van entrepreneurs en die ontwikkeling van onderwys en jeug.

Evert Manuel, uitvoerende burgemeester van BM, het gesê hy is opgewonde oor die stigting van die EDF en het besighede aangeraai om aktief deel te neem aan die forum.

“Ons hoop is om met die forum vir Bergrivier ’n ekonomiese inspuiting te gee.”

You need to be Logged In to leave a comment.