Altesaam 20 nuwe vredesbeamptes van die Bergrivier-munisipaliteit sal ook verkeer kan beheer.

Altesaam 20 inwoners van Bergrivier het pas gekwalifiseer as vredesbeamptes.

Anroux Marais, die Wes-Kaapse minister van polisie-toesig en gemeenskapsveiligheid, het die graduering en indiensneming van 20 nuwe vredesbeamptes by die Bergrivier-munisipaliteit verwelkom.

“Die werwing en opleiding van hierdie beamptes is deel van die departement se strategiese vyf-jaar-plan om die plaaslike wetstoepassingskapasiteit in munisipaliteite reg oor die provinsie te versterk en te ondersteun, wat ons in staat stel om saam ‘n veiliger Wes-Kaap te bou,” sê Marais.

In samewerking met die Stad Kaapstad se geakkrediteerde openbare opleidingskollege het die gegradueerdes ‘n 30 dae lange program van die veiligheids- en sekuriteitsektor se onderwys- en opleidingsowerheid (Sasseta) voltooi. Ná voltooiing van die kursus het die beamptes amptelike sertifisering ontvang om as vredesbeamptes sowel as verkeersbeamptes te dien.

Marais het die gegradueerdes op die parade toegespreek en hulle daaraan herinner dat hul rol veel verder as die afdwinging van die wet strek.

“Julle is hier – nie net om orde te handhaaf nie, maar om vertroue te bou, verhoudings te bevorder en te help om veiliger, meer verbonde gemeenskappe te skep waar inwoners vrylik kan woon en rondbeweeg,” sê sy.

Sy het hulle ook aangemoedig om met eer, moed en onderskeiding te dien.

“Die opleiding en sertifisering wat hierdie jong Vredesbeamptes verwerf het, maak hulle nie net meer indiensneembaar nie, maar open ook deure vir toekomstige loopbane in wetstoepassing en openbare veiligheid,” sê sy.

“Die Wes-Kaapse regering bly daartoe verbind om in die jeug te belê en veiliger gemeenskappe te bou deur inisiatiewe soos ons vredesbeampte-opleidingsprojek. Veilig- er gemeenskappe ondersteun ‘n sterker ekonomie – want wanneer mense veilig voel, is hulle meer geneig om te belê, en dit dryf werkskepping.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025