Belê in ons kinders om in ons land te belê

Goeie opvoeding vir voorskoolse kinders moet vir elke landsburger ’n prioriteit wees.


Goeie opvoeding vir voorskoolse kinders moet vir elke landsburger ’n prioriteit wees.

Die krag van ’n samelewing lê in die opvoeding van hul voorskoolse kinders is die mening van dr. Mohammed Karan, dekaan van die fakulteit landbouwetenskap by Universiteit Stellenbosch.

Hy het Vrydagaand by die jaareindfunksie van die Weskus Sakekamer ’n donker prentjie van die wêreld en plaaslike ekonomie geskets met as ligpunt die hoop wat tydige belegging in kinders se opvoeding kan inhou.

“Die jaar 2016 was ’n turbulente jaar,” het hy gesê met verwysing na Brexit (Brittanje wat gestem het om die Europese Unie te verlaat) en Donald Trump se verkiesing as nuwe president van die VSA.

Plaaslik is ons land op die rand van ’n waterkrisis wat Karan waarsku erger gaan word. “Ons is op die rand van uit water hardloop, dit lyk scary,” het hy gesê. Hy is die laaste vyf jaar ’n lid van die Nasionale Beplanningskommissie wie deur die President getaak is om ’n nuwe Waterplan vir die land op te stel.

Hy het gesê Suid-Afrika se grootste mislukking ná 1994 was dat die land nie kon industrialiseer nie. Die land se rykste minerale bronne is gedurende die apartheidsjare grotendeels uitgemyn. In die post-mynwese ekonomie het ons oorgeskakel na ’n diensgerigte ekonomie en dit is nie genoeg vir volhoubare ekonomiese groei nie.

“Die wêreld is op ’n ekonomiese slowdown,” sê Karan, “Die ligpunt is Suid-Asië waar hul jongmense goed opgelei is.”

Die onderwysstelsel kort dringende ingryping. Hy sê die land se skoolstelsel lewer elke jaar ’n swakker akademiese kind op – een van die dae sal ’n oorbruggingsjaar ingestel moet word om jong mense akademies gereed vir universiteitsopleiding te kry.

Vaardigheidsopleiding behoort ook groter klem te geniet, volgens Karan. “Ons tersiêre stelsel is gebroke,” sê hy, “In Singapoer of Duitsland het die jongmense twee eienskappe wat anders is: hulle is vaardig met hul hande en hulle het common sense. Ons kinders word dit nie geleer nie.”

Die plan vir Suid-Afrika moet wees die vind van ’n formule om die minerale rykdom wat oor is, te belê in vaardigheidsopleiding vir jongmense.

“Elke persoon moet vra wat doen ek vir die kinders van die land? Elke persoon in die land se werk lê daarin, dit is die krag van ’n samelewing.”

(Heléne Meissenheimer is ’n gekoöpteerde sakekamerbestuurslid.)

You need to be Logged In to leave a comment.