Die 2015-belastingseisoen het pas begin en belastingbetalers is druk besig met hul opgawes.
Ongelukkig is die eerste skelmstreke ook reeds in die ronde. Daarom is dit noodsaaklik dat belastingbetalers op die uitkyk moet wees vir sulke slenters.
“Die belastingseisoen is ’n gulde geleentheid vir misdadigers (om mense te bedrieg),” het Lesedi Seforo, spanleier van SAID-bedrywighede van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns (SAIT), gewaarsku.
Skelmstreke en internetbedrog-aanvalle (phishing) het ongelukkig egter toenemend algemeen geword in vandag se elektroniese wêreld, sê Seforo.
Belastingbetalers gebruik toenemend eFiling om hul belastingopgawes elektronies in te dien, maar dit maak hulle maklike teikens vir skelms.
Woensdag 1 Julie, die eerste dag van die nuwe belasting-indieningstydperk, is meer as 29 400 belastingopgawes ingedien deur eFiling, volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).
Dit is vergeleke met 17 000 opgawes wat by takke landwyd ingedien is. Teen Vrydagoggend 3 Julie het amper 172 000 Suid-Afrikaners hul belastingopgawes ingedien, volgens die SAID.
Seforo sê belastingbetalers moet op die uitkyk wees vir skelmstreke.
Dit volg nadat ’n belastingbetaler gesê het hy het verskeie e-posse ontvang kort nadat hy sy opgawe elektronies ingedien het.
Die belastingbetaler het gedink die e-posse is van die SAID, omdat hy dit ontvang het net nadat hy sy opgawe ingedien het, maar hy het onraad gemerk toe die skelms selfs in die e-posse aangebied het om vir hom ’n spaarrekening oop te maak.
Seforo sê belastingbetalers moet die volgende in gedagte hou om hulle teen skelmstreke te beskerm:
■ Moenie e-posse oopmaak of antwoord daarop as dit van onbekende bronne kom nie.
■ Wees versigtig vir e-posse wat vra vir persoonlike inligting – wagwoorde, pin-nommers, kredietkaartinligting, ensovoorts – aangesien die SAID nooit belastingbetalers vir sulke inligting in ’n e-pos sal vra nie.
■ Die SAID sal nie jou bankbesonderhede oor die foon, e-pos of webwerf vra nie.
■ Wees versigtig vir vreemde SMS’e.
Die skelms buit mense se kwesbaarheid uit en in hierdie geval hul behoefte aan geld. Die e-posse wek dus gewoonlik die hoop van ’n terugbetaling van die SAID.
Voorbeelde van skelmstreke sluit e-posse in wat blyk dat dit van returns@sars.co.za of refunds@sars.co.za is en aandui dat belastingbetalers geregtig is op ’n belastingterugbetaling.
“Hierdie e-posse bevat skakels na vals vorms en vals webwerwe wat lyk soos die ware jakob, maar met die doel om mense te kry om persoonlike inligting, soos bankbesonderhede, in te vul en wat die skelms dan gebruik,” sê Seforo.
Die SAID raai belastingbetalers aan om eers navrae oor verdagte boodskappe of e-posse te doen voor enige optrede en om internetbedrog by phishing@sars.gov.za aan te meld.
Belastingbetalers kan ook die bedrog-en-teenkorrupsienommer, 0800 002 870, bel.
– Fin24