Belasting kan só byt

Jy maak dalk die fout om te glo die begrotingsnuus oor belastings vir die belasting-jaar wat op 1 Maart begin, is goed.


Jy maak dalk die fout om te glo die begrotingsnuus oor belastings vir die belasting-jaar wat op 1 Maart begin, is goed.

’n Skerp verhoging in “sondebelastings”, ’n styging in die algemene brandstof- en padongelukfondsheffing en ’n verhoging in die suikerbelasting is aangekondig.

Die belangrikste is egter die belastingkerwe wat nie verander het nie. Dit beteken dat baie mense ná hul jaarlikse verhoging vanjaar in ’n nuwe belastingkerf sal val en ’n groter persentasie van hul verhoging aan belasting moet opdok.

Hier volg van die grootste veranderings in die nuwe belastingjaar:

Belastingdrempel: Die belastingdrempel styg met minder as 1,1%, dus minder as die inflasiekoers. Mense wat minder as die belastingdrempel verdien, betaal geen belasting nie.

Die drempels is: Mense jonger as 65 jaar: R78 150 tot R79 000; mense van 65 tot 74 jaar: R121 000 tot R122 300; mense van 75 jaar en ouer: R135 300 tot R136 750.

Belastingkortings: Die belastingkortings – die bedrag wat mense kan aftrek voordat hul inkomstebelasting bereken word – styg ook met net 1,1%.

Primêre korting (jonger as 65 jaar): Styg van R14 067 tot R14 220. Sekondêre korting (65 tot 74 jaar oud): Styg van R7 713 tot R7 794 (algehele korting nou R22 014). Tersiêre korting (75 jaar en ouer): Styg van R2 574 tot R2 601 (algehele korting nou R24 615).

Belastingkerwe: Die kerwe wat bepaal watter persentasie van jou inkomste jy aan Jan Taks gee, is glad nie aangepas nie. Dit beteken namate mense meer verdien, sal ’n groter persentasie van hul inkomste teen ’n hoër koers belas word.

Die maksimum inkomste-belastingkoers bly onveranderd op 45% vir mense wat R1,5 miljoen of meer per jaar verdien.

Trusts: Die belastingkerwe vir trusts (uitgesluit spesiale trusts soos trusts wat vir gestremdes of minderjariges opgerig word wanneer broodwinners sterf) is nie verander nie.

Die maksimum koers is op 45% gelaat vir trusts met ’n inkomste van R1,5 miljoen of meer per jaar.

Mediese krediete: Die bedrag wat lede van mediese fondse kan aftrek voordat belasting bereken word, bly onveranderd.

Suikerbelasting: Die suikerbelasting wat in April 2018 van krag geword het, word verhoog van 2,1c per gram suiker per 100 ml koeldrank tot 2,21c per gram per 100 ml. Die basiese vrystelling geld dat die eerste 4 g suiker per 100 ml koeldrank belastingvry is.

Belasting op toegevoegde waarde (BTW): Dit bly op 15%. Drie nuwe items is van April af van BTW vrygestel: koekmeel (meelblom), broodmeel en sanitêre doekies.

Inkomstebelasting op oorsese werk: Die tesourie het bevestig dat die belasting op inkomste wat oorsee verdien word, op 1 Maart 2020 van krag word. Die eerste R1 miljoen wat mense oorsee verdien, sal van belasting vrygestel word. Mense wat langer as 183 dae per jaar in sekere lande werk, betaal nou geen inkomstebelasting daar of in Suid-Afrika nie.

You need to be Logged In to leave a comment.