Bekende sakeman, oupa sterf op 70 weens kanker

Sy lag en pittige humor is wat die familie van Martin Spangenberg sal mis.


Sy lag en pittige humor is wat die familie van Martin Spangenberg sal mis.

Spangenberg (70) is verlede Woensdag (30 Oktober) aan kanker oorlede.

Hy was in Vredenburg en Saldanha bekend vir sy grassny-onderneming, Spannies Grassnyers.

Sy familie beskryf Spangenberg as ’n hardwerkende en vasbeslote mens wat nooit opgegee het nie en wie se hande nooit vir iets stilgestaan het nie.

In sy vrye tyd het Spangenberg klein plantmasjinerie en grassnyers reggemaak – bloot as ’n stokperdjie en ekstra inkomste.

Hy het in 1994 die besluit geneem om sy passie uit te leef. Baie mense kan getuig van sy kennis op hierdie terrein, wat van onskatbare waarde was.

Sy dogter, Anel Lambrechts, en sy seun, J.P. Spangenberg, sê al was hul pa 70 jaar oud, het hy steeds drome gehad en nog baie dinge wat hy wou bereik.

Volgens hulle was hy ’n ware familiemens.

“Ons pa het ons geleer dat ’n mens moet hard werk vir wat jy in die lewe wil bereik,” vertel dié twee.

As skoolkinders vertel hulle graag dat daar baie projekte was, soos damme en voëlhokke bou, wat hulle ná skool saam met hul pa aangepak het, en wat vandag as kosbare herinneringe dien.

Die familie sal altyd die goeie tye onthou, veral die braaitye met musiek op die kleinhoewe en die spesiale tye waar die kleinkinders saam met hul oupa in die bed gelê en na sy geselsies en grappies en staaltjies geluister het.

’n Diens vir Spangenberg sal op Saterdag 16 November om 10:00 in die NG kerk Akkerdyk in Vredenburg plaasvind.

Hy laat sy vrou, twee kinders, ’n skoonseun en -dogter asook twee kleinkinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.