As ‘n onbekende jou bel of ‘n WhatsApp of e-pos stuur, druk liewer dood, delete en gooi in jou virtuele asblik eerder as om deel te word van die groeiende lys Weskussers wat vir slenters en fopstories val en baie geld verloor.

Weslander het saam met kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, lesers al menigmaal aangeraai om níé oproepe van “die bank”, “die lughawe” of “die koerierdiens” te beantwoord of op skakels in ‘n WhatsApp of e-pos te klik nie.
Toe ‘n 68-jarige vrou van Dwarskersbos vandeesweek vra wanneer sy dan haar geld gaan terugkry, het ‘n gewetenlose swendelaar doodluiters gesê: “Nooit!”
Dit is in baie gevalle presies wat gebeur. In die vrou van Dwarskersbos se geval het ‘n sogenaamde “bankamptenaar” haar die afgelope Sondagaand (5 Oktober) omstreeks 18:30 gebel en haar meegedeel dat “iemand geld uit haar rekening getrek het”.
Helfrich benadruk weer eens dat banke dit nie doen nie!
Die skurk het vir die slagoffer ‘n “saak-verwysingsnommer” gegee en haar na sy “bestuurder” deurgesit. Die bestuurder, ‘n vrou, het met haar gepraat en hierna moes sy weer met die man praat wat haar aangesê het om die geld “tussen twee banke oor te plaas”.
Helfrich maan lesers om nie toe te laat dat enigiemand vir jou voorsê wat om met jou geld of jou bankrekening te doen nie. Die slagoffer het toe gevra wanneer sy haar geld gaan terugkry en die swendelaar bloot net gesê “nooit”.
Weskussers – veral bejaardes – is ‘n spesifieke teiken van swendelary-sindikate en talle inwoners loop deur.
“Dit is kommerwekkend om te sien hoe baie senior burgers steeds gehoor gee aan oproepe van ‘bankamptenare’ wat hulle meedeel van ongemagtigde transaksies op hul bankrekeninge,” sê Helfrich.
Die afgelope week is soortgelyke sake by die polisie aangemeld.
Misdadigers het met die bankfout-storie R14 600 by ‘n 74-jarige vrou van Porterville gesteel en vyf ongemagtige “transaksies” van R500 elk is uit die bankrekening van ‘n 61-jarige man van Laaiplek gedoen. ‘n 60-jarige vrou het R19 996 verloor omdat sy na ‘n “bankamptenaar” geluister het wat haar laat weet het dat “iemand besig was om haar kaart te gebruik”. Hy wou kastig “seker maak” of sy wel die kaarthouer is. Die slagoffer het haar OTP-nommer gegee, waarna die geld getrek is.
Verlede Donderdag (2 Oktober) het ‘n vrou ‘n 73-jarige vrou van Moorreesburg gebel en haar meegedeel dat iemand besig is om “goedere by ‘n bekende kettingwinkel te probeer koop”, maar die “transaksies word elke keer afgekeur”. Die swendelaar het die slagoffer gevra om haarself as ‘n begunsdigde “by te voeg” en “geld aan haarself oor te betaal”, wat sy gedoen het – net om uit te vind dat die R29 100 wat sy aan “haarself” moes oorbetaal, nie meer in haar rekening was nie. ‘n Gewetenlose bedrieër het ‘n 81-jarige vrou op Vredenburg van R131 883 besteel. Die skurk het die vrou laat glo dat sy “geld van hom sal ontvang”, maar dat sy die bedrag moet oorbetaal as “release fee” sodat hy kwansuis die geld aan haar sal oorbetaal.
‘n Slagoffer van Laaiplek het R45 400 aan ‘n swendelaar oorbetaal om ‘n omsetter in sy huis te installeer. Die 61-jarige slagoffer het die geld oorbetaal nog voordat die werk gedoen is. Die verskaffer het spoorloos van die toneel af verdwyn.
In ‘n ander geval is R1 577,25 uit ‘n 38-jarige vrou van Saldanha se rekening gesteel deur “werkers” van ‘n “New Yorkse” te wees.



You must be logged in to post a comment.