Die bejaardes van Louwville se Green Lillies-bejaardesklub het Woensdag hul lyf op die dansvloer danksy ’n groep Kaapse besoekers geskud.
Lede van die Proteaville Senior Fiksheidsklub in Bellville het die Weskus verlede week besoek en ’n draai by die Green Lillies gemaak. Die besoekers het weekliks dans-, aërobiese en fiksheidsklasse en het besluit om hul lyndanspassies vir die plaaslike klub te kom wys.
Proteaville se instrukteur het die besoekers en ’n paar opgewonde plaaslike bejaardes ’n paar oefeninge op die maat van die musiek gewys.
Volgens Welize Burgess, die voorsitter van Green Lillies, was dit ’n wonderlike besoek en hulle hoop om volgende jaar by die Bellville-klub te gaan kuier. Die Green Lillies het op hul beurt die besoekers met hul sangtalent vermaak en ’n paar Kersliedere gesing.
Hopefield se bejaardesklub onder leiding van Albert Dryden het die span ook ontvang.
Dryden en sy span het die Proteaville-lede in Hopefield na die plaaslike museum en Simple Bee, waar hulle bye kon besigtig, geneem.
Dennis Malgas, Proteaville se voorsitter, het op sy beurt gesê die warm Weskus-ontvangs van albei klubs was wonderlik. Benewens sakkies koekies en die danslesse wat die Bellvilliete gebied het, het die Green Lillies ook ’n skenking van R1 050 ten bate van hul jaareindgeselligheid vandeesweek ontvang.

