“Weet waar elkeen van jou sente heen gaan,” sê hulle. “Maak seker jy het ’n begroting,” sê hulle.

Maar as iemand wat vir die grootste deel van 2019 probeer om haar geldsake reg te kry, kan ek met sekerheid sê om ’n begroting op te stel, is nie ’n one size fits all nie.

Een van die gewildste metodes om te begroot is die 50/30/20-reël. Dit is ’n eenvoudige formule – 50% van jou inkomste gaan vir noodsaaklikhede, 30% vir alledaagse besteding en 20% vir spaar.

Hierdie metode werk goed vir huishoudings met meer as een inkomste of enkellopendes wat meer as een inkomste het. In Suid-Afrika, waar huur/verbande en motor (en die versekering daarvoor) redelik duur is, kan dit ’n stryd wees indien jou inkomste net uit een salaris bestaan.

Indien jy egter kies om hierdie metode te volg, werk dit goed, want jy beperk jou uitgawes tot slegs 30%. Synde slegs 5% van Suid-Afrikaners genoeg vir aftrede gespaar het (volgens Alexander Forbes) is die kopskuif van skuldmaak tot spaar ’n belangrike een waarmee die 50/30/20 kan help.

Nóg ’n gewilde metode, wat baie geld-ghoeroes voorstel, is die zero-based begroting. Dit verg baie werk, maar as jy met dié een kan slaag, werk dit goed.

Elke sent van jou inkomste kry ’n werkie met dié metode. Alle uitgawes word vooraf uitgewerk en dit is waarheen elke rand gaan.

Dit verg dissipline om by hierdie begroting te hou en die idee is dat jy aan die einde van die maand niks geld oor het nie, want dit is alles met ’n spesifieke doel bestee.

Dan is daar die hou-jou-strokie-begroting. Hierdie metode is baie tydsaam en vir die meeste mense net nie volhoubaar nie. Hierdie metode werk egter goed indien jy ’n eerlike kykie na jou geldsake wil hê.

Danksy die begroting kan jy mooi sien waarheen jou geld gaan en waar jy dalk minder of meer moet bestee.

Vir diegene wat opgewonde raak deur Excel-blaaie en noukeurig deur papierwerk te gaan, is hierdie net vir jou. Om te weet waarheen elke rand gaan beteken beter beheer oor jou finansies.

Na my mening is die beste en maklikste begroting egter die eenvoudige koevertjie-metode.

Die konsep is eenvoudig – neem al jou rande en sit dit in koeverte waarop jy skryf waaraan dit bestee gaan word.

Kategorieë kan so spesifiek wees soos wat jy wil hê. Die koevert kan dalk wys toiletware, ’n ander kos of dalk uitstappies.

Eenvoud is die wenresep van hierdie metode, want indien byvoorbeeld jou koevertjies vir uitstappies leeg is, beteken dit jy moet tot die einde van die maand maar liewer met Jan Tuisbly se karretjie ry.

Daar kan egter die versoeking wees om uit die een koevert te haal en na ’n ander te skuif, maar indien jy ernstig oor jou begroting is, is jy die een wat aan die kortste end gaan trek.

Moenie bekommerd wees as die idee van koeverte vol geldnote jou angstig maak nie, want die slimmes het reeds ’n toepassing ontwerp om geld in virtuele koeverte te plaas.

’n Begroting is iets wat gepas en gemeet moet word en een metode werk gewis nie vir almal nie.

Die geld-ghoeroes meen ’n begroting moet elke paar maande hersien word, so hoe ook al jy met jou rande werk, maak seker jy het ’n plan wat jou sak pas.

You need to be Logged In to leave a comment.