Baie om te geniet op Porterville

Porterville, weggesteek in die skadu van die Winterhoekberge, is een van die Bergrivierstreek se besbewaarde geheime.


Porterville, weggesteek in die skadu van die Winterhoekberge, is een van die Bergrivierstreek se besbewaarde geheime.

Dié heimat van bekende sanger en etiketkenner Nataniël het ontpop in enige smulpaap se droom. Hetsy jy liries raak oor vye, organiese groente of tuisgebroude bier, Porterville bied dit alles en nog meer.

Op pad na Gouda, op die plaas Kleine Liefde, brou Bernard en Susan Kruger hul eie bier, Indie Ales. Dit het alles in 2011 begin toe hulle hul boerdery wou diversifiseer. ’n Paar kursusse, waaronder ’n MBA-tesis, en baie burokratiese rompslomp later lewer hulle vandag 7 000 bottels bier.

Bernard vertel hulle hoop om teen middel-November ’n proelokaal op die plaas te hê met ’n pizza-oond later. Intussen is hul produkte in die dorp te koop.

Vyeplesiertjies soos ongelooflike slaaisous van vyestroop en ingelegde brandewynvye is te koop op die plaas Eikenhof.

Karin Knoetzen en haar skoonma het in 2010 Fig Fun begin en die pret brei elke jaar net uit. Bel Karin om ’n afspraak te maak.

Op nog ’n plaas net buite die dorp verbou Steve Botha al vir 22 jaar groente en kruie. Hy verskaf eetbare blomme en groente aan toprestaurante.

Vir die avontuurlustiges is daar die 22 watervalle om uit te klim vanaf die Waterval-kampeerterrein. Die kampeerterrein is geleë op ’n afdraaipad net 3 km voor die dorp se ingang.

Bo-op die Groot Winterhoekberge is oornag staproetes en dagstappe na bergpoele. As dit laat-Desember of Januarie is, wees op die uitkyk vir die skaars geel disa wat net hier voorkom. Bespreek vooraf by CapeNature se Kaapse kantoor by 021 483 0190.

Porterville is ’n gewilde bestemming onder sweeftuig-entoesiaste. Die Wes-Kaapse Ope-sweeftuig-kompetisie word jaarliks hier gehou, vanjaar van 13-19 Desember, wat ’n lugskouspel van kleurvolle sweeftuie beteken.

You need to be Logged In to leave a comment.