Die polisie op die toneel in Piketberg waar die lyk van ’n babaseuntjie gevind is.


“Hy het pragtig gelyk – soos een wat slaap.”

Só vertel Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, nadat die lyk van ’n pasgebore babaseuntjie Sondag (29 Januarie) in ’n plastieksak langs die Tollie Adams Oval-krieketveld in Piketberg gevind is.

Wat Van Rooy meer verstom, is die feit dat dié gru-vonds slegs 800 m van die Radie Kotze-hospitaal gevind is.

“So baie mense smag daarna om kinders te hê – selfs my dogter het gevra hoekom het die mamma nie die baba net na ons toe gebring nie.”

Die voorval het die gemeenskap van Piketberg geruk en talle met vrae gelaat.

Van Rooy het aan Weslander gesê hy is kort voor 13:00 deur wetstoepassers in kennis gestel en het dadelik na die toneel vertrek.

Hy sê ’n rondloper het die baba gevind.

“ ’n Mens verstaan nie die omstandighede van die mamma en wat deur haar kop gegaan het nie,” sê hy.

Die munisipaliteit en die gemeenskap het dit op hulle geneem om die baba te begrawe as die ma nie in die volgende paar dae opgespoor word nie.

AO Silke Lourens, ’n woordvoerder van die Piketberg-polisie, het bevestig dat ’n lid van die gemeenskap besig was om leë blikkies in ’n oop veld naby die krieketveld in Piketberg bymekaar te maak toe hy op ’n baba, wat in ’n plastieksak toegedraai was, afgekom het.

“Hy het die polisie in kennis gestel. ’n Geregtelike doodsondersoekdossier is geopen. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Lees vandeesweek se uitgawe van Weslander vir ‘n opvolg berig.

You need to be Logged In to leave a comment.