Die moderne wit verkoopsaal en kantore van AutoWest, ’n gebruikte motorhandelaar, het op 25 Augustus 2006, presies 10 jaar gelede, hul deure oopgemaak.
Dit was lank eienaar Charl de Goede se droom terwyl hy hom die voorafgaande 12 jaar as verkoopsman in die motorbedryf bekwaam het. Hy het by Wes-Kaap Delta van onder af begin en hom “opgewerk” tot handelaarshoof en ’n direkteur van die maatskappy.
Dat AutoWest deur die resessie, wat die land en die wêreld net ná hul opening getref het, bly staan en selfs vooruitgegaan het, sal altyd ’n hoogtepunt vir De Goede bly. “Die mat is onder ons uitgeruk, maar ons is daardeur en het sterker en beter anderkant uitgekom.”
Selfs met die sowat drie jaar wat die mark oorstroom is deur Chinese produkte wat baie druk op die gebruikte voertuigmark geplaas het, het AutoWest met hul suksesresep oorleef en aangegaan.
En die suksesresep? “Fokus, bestuur, baie harde werk en toegewyde personeel.”
Die personeelkorps bestaan uit lojale werkers wat almal al langer as nege jaar by die maatskappy werk. “Ons is ’n hegte werksfamilie,” het De Goede gesê.
’n Maatskappy, veral ’n gebruikte motorhandelaar, se goeie naam beteken alles. Vir De Goede gaan dit oor eerlike besigheid doen met gehalteprodukte. “Jy wil hê ’n kliënt moet terugkom om te kom koffie drink en te vertel hoe tevrede hy met sy motor is, nie andersom nie.”
AutoWest wat drie jaar gelede as ’n Blue Chip-handelaar genomineer en is steeds deel van hierdie dinamiese groep onafhanklikke handelaars in die Weskaap.
AutoWest hou redelik by die oorspronklike marksegment soos uitgestippel in die besigheidsplan wat die soort motors wat hulle verkoop betref, maar hulle pas aan by die mark.
Die goedkoopste motor wat hulle al verkoop het, was een van sowat R5 000 en die duurste, ’n Mercedes Benz SLK 55 AMG van R820 000.
Julian Maree neem op 1 November vanjaar as handelaarshoof by De Goede oor, wanneer laasgenoemde vir twee jaar na Nieu-Seeland verhuis. Hy is van plan om daar “enigiets anders” te doen as om motors te verkoop.
Hy hoop om daarna met nuwe ondervinding terug te keer en dit in die besigheid te kom inploeg.
“Ek trek nie my wortels uit nie. Ek sprei net my takke.”