Saterdag is gehardloop, gespring en spiesgegooi by die Wes-Boland-atletiekbyeenkoms.
Hoërskoolatlete het vir hul sportdag na Porterville gereis terwyl laerskoolleerders by Vredenburg se sportterrein byeengekom het.
Die bestes van die beste het koning gekraai.
Langebaan Primêr se atlete het uitstekend gevaar en ’n hele paar medaljes is deur die groep verower.
Letisa Coetzee (o.14) het goud in die 800 m en 1500 m behaal. Ashley Ox (o.13) en Xena Swarts (o.12) was onderskeidelik tweede en eerste in hul 200 m-wedlope. Lee-Ann Warnick het brons in die 100 m gewen en Gerodin Lottering was eerste in die 100 m en derde in 80 m vir seuns.
Tatendaishe Mafumhe was eerste in verspring en het tweede in die 80 m-wedloop geëindig. Nathan Aneke was derde in die 100 m-wedloop terwyl Jason Ocks derde in sy ouderdomsgroep vir die 100-wedloop was. Dié veelsydige atleet was ook tweede in die 1 200 m. Die langasem Jadon Ocks was vierde in die 1 200 m. Duwayne Linnerd was derde in die 60 m-wedloop en Juan Moses tweede in die 80 m.
Hopefield Primêr se atlete het veral in stap uitgeblink.
Die stappers wat aan die 1500 m-wedloop deelgeneem het, was Damion White (eerste plek), Andrea Samuels (vierde plek) en Queny Papier, wat goud in die afdeling vir meisies o.13 gekry het.
Wonderlike spronge deur die atlete het hulle ook medaljes besorg. Monray Papier (o.12) was tweede in die hoogspring, Geophene Linnerd (o.11) het goud gewen vir verspring en Wildene Papier (o.10) het die tweede plek in verspring verower. Wildene was ook eerste in haar ouderdomsgroep vir hekkies.
Tristan Galant was derde in die 60 m-wedloop.
Leighton Loubser het in die 150 m-hekkies (derde plek) uitgeblink. Leighton was tweede in die spiesgooi en derde in die verspring.
Longacres Laerskool se vyf beste atlete wat na die Boland-kampioenskap vir hoogspring deurgedring het, sluit in Isaiah Olifant (goud), Chloë Henning (tweede) en Makayla Reid (eerste plek).
Saam met dié springers is Daniella van Niekerk, wat tweede was in die gewigstoot, en Alexander Kotze, wat eerste in verspring en derde in hoogspring was.
Steenbergs Cove se Wes-Boland-span is dalk klein, maar Clint Afrika (diskus), Ralton Gardiner (verspring), Emmarentia Arendse (gewigstoot) en Nazrodien Abdol (80 m) was ge-train. Hulle sal nou aan die Boland-byeenkoms deelneem.
Hoërskool Hopefield se senior atlete het na Porterville gereis en vele gouemedaljewenners opgelewer. Die eersteplekatlete was Bejanke Bezuidenhout (o.14) in die 200 m-, 400 m- en 100 m-wedlope, Anja Prins (o.17) vir hoogspring, Miche Engelbrecht (o.17) in diskus en verspring, Hanlie Mathysen (o.15) hoogspring en Kiara Kirsten (o.15) vir die 5 km-stap. Nog ’n stapper, Stephanie van Zyl, het die 10 km gewen.
Henco Nieuwoudt (o.17) het spiesgooi oorheers terwyl JP Bekker (o.17) in diskus, Luke Jaars (o.19) in hoogspring, Denmar Jacobs (o.17) ook in hoogspring en David-John Coraizen (o.15) in spiesgooi uitgeblink het. Tyreeq Linnerd (o.19) het die 400 m-hekkies kafgedraf en Sisero Mentoor (o.19) op sy beurt die 10 km-stap.
Die Boland-kampioenskap word Saterdag op Dal Josaphat gehou.