Atleet droom groot

Ná slegs ’n jaar op die baan het Zumeera Makka ’n Suid-Afrikaanse landloopkampioen geword.


Ná slegs ’n jaar op die baan het Zumeera Makka ’n Suid-Afrikaanse landloopkampioen geword.

Sy is ook Weslander se Let’s Play-finalis vir September.

Die tiener van Hope­field Primêr is tans die land se beste o.15-atleet nadat sy as die nasionale landloopkampioen gekroon is.

Volgens haar afrigter, Nico Louw, is dit veral Zumeera se positiewe uitkyk en lewenslus wat tot dié sukses bygedra het.

“Sommige kinders wil net nie kom oefen nie, maar Zumeera het altyd haar kant gebring. Ons oefen Maandae tot Donderdae en ook in die vakansies,” verduidelik Louw. Hy het dié atleet se talente verlede jaar by die kleure-atletiekbyeenkoms raakgesien.

Ná die atletiekbyeenkoms het Louw haar aangemoedig om aan landloop deel te neem en só het die pad na die Suid-Afrikaanse kampioenskap begin. Verlede jaar het Zumeera aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem en sewende in haar ouderdomsgroep gekom. Vanjaar het sy weer aan die kampioenskap deelge­neem. Saam met Cleo Papier (o.14) en Quiny Papier (o.14) het Zumeera die Wes-Kaap-kampioenskap kafgedraf en is daarna in die Wes-Kaap-landloop­span opgeneem.

In September is die atlete na Witrivier in Mpumalanga waar sy die 4 km-roete aangepak het. Die hitte en heuwels het haar nie onder­ge­kry nie en sy het goud gewen.

Zumeera sê haar droom is om aan te hou met landloop, maar dit lyk of Zumeera dalk volgende jaar nie ’n skool het nie. Haar ouers het aansoek vir Elsen-skool gedoen, maar sy het nie plek by dié skool gekry nie.

You need to be Logged In to leave a comment.