‘As dit moeilik gaan praat ek met my Here’

Reeds op ’n jong ouderdom het hy geweet hy wil mense help.


Reeds op ’n jong ouderdom het hy geweet hy wil mense help.

Hy het ’n loopbaan as verpleegster oorweeg, maar sy lewenspad het hom in ’n ander rigting geneem.

Nou, as 47-jarige, is Collin Dyers van Laingville dankbaar dat hy die afgelope 12 jaar die geleentheid gegun is om ander mense in hul moeilikste tyd by te staan.

Die boorling van Concordia, in die Namakwa-distrik, is reeds die afgelope 21 jaar in Laingville. Hy is welbekend in die omgewing vir sy rol as sondag­skoolonderwyser, jeugleier en diaken in die VGK kerk, maar hy is ook die afgelope 12 jaar ’n Kansa-vrywilliger.

Die alleenloper sê dit was nie ’n groot aanpassing om Namakwaland te verruil vir die Weskus – na hy eers ’n draai in die Kaap gaan maak het – nie.

“Die mense is dieselfde, dit was ’n maklike aanpassing. Die enigste verskil is, hierdie is ’n vissersdorp.”

In 2005 is die Groot K sy suster gediagnoseer. Die twee was baie na aanmekaar en hy het haar in dié tydperk help versorg. Hy het besluit om sy werk te los en sy passie te volg.

Hy het teen dié tyd reeds vir Audrey Thom, Kansa-koördineerder vir die St. Helenbaaigebied geken. Sy het hom aangemoedig om ’n vrywilliger te word en die gepaardgaande kursusse te voltooi.

Ongelukkig het sy suster ’n paar maande later haar stryd teen borskanker verloor.

Collin, soos alle ander Kansa-vrywilligers, stap ’n pad met die kankerlyers wat uitreik na hulle om hulp. Hy gaan saam na doktersbesoeke, sorg dat hulle die medikasie gebruik, bied emosionele ondersteuning, help met versorging en waar nodig stap hy ook die ekstra myl om gesinne te help met kos.

“Ek lewe vir die tipe werk. Ek verdien niks, dis alles vrywillig. Ek beleef ook soms moeilik tye, maar dan praat ek met my Heer en dan maak Hy weer die weg oop,” vertel Collin.

Hy het ook reeds baie pasiënte, wat eintlik vriende geword het, aan die dood afgestaan.

“Dit maak seer, maar ek is al deurgetrek.”

Net Desembermaand het Collin een van sy pasiënte, wat soos ’n ma vir hom was, tannie Katriena Williams verloor.

“Ek ken haar reeds van ek hier kom woon het. Sy het my altyd aangemoedig, my gemotiveer. Sy was ’n ma-figuur vir my.”

Toe kanker begin November by tannie Katriena gediagnoseer is, was Collin natuurlik daar om haar en die familie by te staan. “Haar dood het my diep ontstel,” vertel hy.

“Soms is hulle in erge pyn, dat die morfien nie eers help nie en dan praat ek ook met my Here en vra dat Hy hulle verlos.”

Toe hy 12 jaar gelede as vrywilliger begin het, het hy sowat drie tot vyf kankerlyers per maand gehelp. Nou is dit soveel as 15 mense wat hy ondersteun.

Collin vertel ook dis nie net ouer mense is by wie kanker gediagnoseer word nie, maar meer en meer jonger mense. “Ons jongste kankerlyer is nou 12 jaar oud en daar is ’n dame van 32 jaar met borskanker.”

In 2016 het hy die Kansa Weskus/Hantamstreek se vrywilliger van die jaar toekenning ontvang – iets waaroor hy baie trots is.

Collin se raad aan kankerlyers is om die dokter vir so veel inligting as moontlik oor sy prognose te vra – watter fase is jy, wat soort kanker, wat is jou alternatiewe vir behandeling?

“Wanneer jy uitvind jy het kanker moet dit nie vir jouself hou nie. Maak oop jou deure vir ondersteuning en gebede van buite.”

You need to be Logged In to leave a comment.