Nasionale Arbeidsterapieweek vind vanjaar van 26 tot 30 September plaas. Weslander het vandeesweek met dr. Janke van der Walt, ’n arbeidsterapeut van Vredenburg, oor haar interessante en noodsaaklike beroep gesels.

Wat is arbeidsterapie? Hoewel ek grootliks oor arbeidsterapie in pediatrie gaan gesels, wil ek noem arbeidsterapie ook vir volwassenes is. Dit behels betekenisvolle aktiwiteite om ’n beperking te oorkom sodat die mens sy volle potensiaal op alle gebiede van sy lewe kan bereik. Arbeidsterapie vir kinders is op dieselfde beginsel geskoei en fokus op die motoriese, emosionele en sosiale ontwikkeling. Dit behels ook sensoriese integrasie en is alles wat die kind deur sy of haar sintuie opneem, hoe jou kleinding dit prosesseer en daarop reageer. ’n Kind moet speel, skoolwerk doen, sosiaal ontwikkel en leer om ouderdomsgepas onafhanklik te word. As ’n kind in een van hierdie gebiede sukkel, kan ’n onderwyser of sielkundige hom of haar vir arbeidsterapie verwys of ’n ouer kan self na ’n arbeidsterapeut uitreik.

My kind is vir arbeidsterapie verwys, hoe lyk die proses van hier af? Ek doen ’n deeglike evaluasie. Dan stel ek ’n plan van aksie in samewerking met die ouers en onderwyser op. Die behandeling wat aanbeveel word mag moontlik arbeidsterapie-behandeling oor ’n spesifieke tydperk insluit, ’n tuisprogram wat ouers saam met die kind kan toepas, of selfs net algemene raad. Soms is dit net nodig dat ouers hul optrede verander of die kind se omgewing of omstandighede moet aangepas word.

Wat is ’n algemene uitdaging waarmee vandag se kinders sukkel? Baie onlangs het ek begin opmerk dat heelwat kinders skielik met angs, hoë stres en vrese sukkel. Ek vermoed dis ’n nadraai van die negatiewe impak van die Covid-19-pandemie op kinders se gesonde sosiale en emosionele ontwikkeling, of die feit dat hulle agter geraak het met hul skoolwerk.

Hoe word stres en angstigheid by ’n kind behandel? Dit word op ’n sensoriese vlak behandel. Daar is baie dinge wat tot ’n kind se stres kan bydra, soos geraas, en sommige kinders hou nie daarvan dat sekere teksture aan hul vel raak nie. Daar is verskeie maniere om ’n meer ontspanne gevoel vir jou kind te skep. ’n Kind se brein moet ook ontspan word. Onthou, elke kind is uniek en ’n een-grootte-pas-almal-benadering werk nie. Sommige kinders het meer sosiale stimulasie nodig as ander. Dalk moet die kind meer beweeg of miskien het die kind langer rustye en gehaltetyd saam met sy ouers nodig.

Hoe belangrik is oefening vir kinders? Dis baie belangrik vir hul ontwikkeling en dit hoef nie duur te wees nie. Vind uit watter sportsoorte jou kind se skool gratis aanbied. Maar onthou, sommige kinders raak gespanne om ’n sport te beoefen waarby groot groepe kinders betrokke is. Dan is ’n sport soos swem of tennis moontlik ’n beter opsie. Laat jou kind meer buite speel en gee minder skermtyd. Jy hoef nie ’n duur speeltoerusting te koop nie. Bou ’n hindernisbaan op die gras met hoepels en balle of enigiets wat jy in die huis het. As jy nie ’n tuin het nie, sal dit goed wees om ’n hindernisbaan in die huis te bou. Jy hoef nie baie ruimte te hê nie. Navorsing toon dat die fyn motoriese vaardighede van leerders by skole sonder speelterreine minder goed ontwikkel is in vergelyking met die fyn motoriese vaardighede van leerders by skole wat wel speelterreine het.

Baie kinders sukkel om ’n potlood reg vas te hou, hoe kan ek my kind help? Laat hom of haar pretaktiwiteite doen wat die vashou van ’n potlood naboots. Laat jou kind kraletjies ryg, klein voorwerpe met ’n knyptangetjie sorteer of met klei speel en dit uitrol. Moenie dat dit vir jou kleinding soos werk voel nie.

My kind se vaardighede om sosiaal te kommunikeer bekommer my. Moet ek ’n arbeidsterapeut kontak? Soms is arbeidsterapie of algemene raad aan die ouers nodig, maar dit mag dalk eerder ’n kwessie wees wat beter deur ’n sielkundige of ’n spraakterapeut opgelos kan word.

Wat is jou raad aan ouers? Moenie jou kind met ’n ander kind vergelyk nie. Elke kind ontwikkel teen sy eie pas. Maar vertrou jou instink, dit kan jou kind net goed doen om ’n kenner se opinie te kry. Jou eie, maar ook die onderwyser se opinie en gevoel oor jou kind se beperkings moet beslis gewig dra wanneer jy terapie oorweeg. Kinders moenie te besig gehou word nie. Dit is ook belangrik dat hulle tyd kry om te ontspan en die omgewing in te neem. Gaan stap saam met hulle en laat hulle toe om aan blomme of blaartjies te vat en daaraan te ruik. Maak hulle bewus van die natuur se klanke, die geruis van die wind, die kwetter van die voëltjies.

You need to be Logged In to leave a comment.