Die ANC Weskusstreek het Donderdag 19 Januarie moes erken hulle het vroeër die oggend valslik ‘n man van Langebaan daarvan beskuldig dat hy in ‘n stemboodskap beweer mense in ANC t-hemde het van die brande in die Wes-Kaap gestig.
Skaars twee ure na sy eerste mediaverklaring op sosiale media, het Sammy Claassen, woordvoerder vir die ANC Weskus, erken die verkeerde man is geïmpliseer, en dat dit blyk of dit ‘n “senior-brandbestryder” is wat die stemboodskap gemaak het.
In sy eerste verklaring het Claassen geëis dat ene Alex Ferreira van Langebaan “binne 48 uur” verskoning maak vir ‘n WhatsApp-stemboodskap waarin ‘n mansstem beweer mense in ANC t-hemde stig die brande in die Paarl, Du Toitskloofvallei en Stellenbosch-omgewing.
Weslander het vir Ferreira gekontakl, wat uit die veld geslaan is oor die bewerings, en sê hy het slegs die boodskap aangestuur. Sy stem klink hoorbaar ook nie soos die stem op die boodskap nie.
“Ek het die boodskap van ‘n verskaffer in die Kaap ontvang en dit toe geplaas op ‘n groepie wat mense inlig van verkeersprobleme,” het Ferreira aan Weslander gesê.
Claassen het hierna aan Weslander erken die verkeerde persoon is geïmpliseer en het kort daarna ‘n tweede persverklaring op sosiale media uitgereik waarin hy dit erken en sê hulle is met die polisie in kontak om die identiteit van die man agter die stemboodskap vas te stel.
In die stemboodskap kan gehoor word hoe ‘n man melding maak van die brande in die Paarl, Du Toitskloofvallei en Stellenbosch-omgewing en dat die brande gestig word.
Die man beweer dan verder dat daar “berigte” is dat die brandbestryders in die helikopters kan sien hoe die brand gestig word.
“Daar’s berigte gewees dat van die ouens sommer met hulle ANC t-hemde en goeters aan die brande stig, en dit is nou weer blykbaar in protes teen een of ander DA-ding wat iewers in die Wes-Kaap in die gang is,” kan in die boodskap gehoor word.
“Maar ons almal weet mos dat daar gewoonlik ‘n groter of meer duistere rede agter hierdie goed sit.”
Die boodskap word afgesluit met die man wat mense waarsku om op hul hoede te wees, want “die brande word doelbewus gestig”.
In die oorspronklike verklaring het Claassen verduidelik die WhatsApp-bewerings “kon sover nie geverifieer of gestaaf word deur ons wetstoepassingsbeamptes nie”. In die afwesigheid van enige bevestigde polisieverslae en ondersoeke sien die ANC dit dus as vals, lasterlik, kwaadwillig en gevaarlik,” het Claassen gesê.
Hy het ook die publiek verseker die ANC het geen beleid of aksie om die omgewing, natuurlike hulpbronne of plase te vernietig nie.
“Asseblief moet nie die naam van die ANC skend vir jou kleinlike propagande en veldtogte nie,” is die verklaring afgesluit.
Netwerk24 het Woensdag berig hoe brandbestryders van die Overberg uit die lug gesien het dat kinders brande stig.
Paarl Pos het gister berig die brande in die omgewing is grotendeels geblus en onder beheer. Dit word egter steeds gemonitor.
Verskeie boodskappe is die afgelope tyd op sosiale media versprei waarin bewerings gemaak word dat daar ‘n politieke agenda agter die brande skuil, met verskeie groepe wat al beskuldig is van brandstigting. Die bewerings is egter nog nie geverifieer nie.
Mense wat brandstigting vermoed word aangeraai om jou naaste polisiekantoor te kontak.
Volgens George Claassen, mediaregskenner en ombudsman vir Media24 se plaaslike koerante, moet mense egter baie versigtig wees wat hulle op sosiale media deel.
“Die deler is in die geval net so goed soos die steler. As jy lasterlike bewerings versprei hetsy op Facebook, Twitter óf WhatsApp, is jy net so skuldig soos die persoon wat die oorspronklike bewering gemaak het,” het Claassen bygevoeg.
*Ferreira het intussen die ANC gekontak en gesê hy sal met die polisie saamwerk om die beskuldigde vas te trek. Volgens ‘n derde persverklaring van Claassen het Ferreira ook verskoning gevra dat hy nie “meer versigtig” na die stemboodskap geluister het voor hy dit aangestuur het nie.
Die Wes-Kaapse polisie het in ‘n verklaring ook bekend gemaak ‘n “ervare” speurder is aangestel om die bewerings van brandstigting te ondersoek, Colin Deiner, hoof van Rampbestuur in die Wes-Kaap het ook gesê die bewerings is nog nie een geverifieer nie.
“Geen vlieëniers het tot op hede iets aangemeld nie. Die hoogs bekwame span brandbestryders dra ook helder geel hemde en is aktief besig om brandstroke te brand.
“Die publiek word versoek om versigtig te wees as hulle verdagte gedrag aanmeld,” het Denier gesê.