“Ek is Amanda Strydom en ek is net mens.”

Só het die tweede episode van die nuwe reeks van Net mens, met Amanda Strydom as gas, begin.

In die program vertel sy van haar grootwordjare as eersgeborene in Port Elizabeth en die opregte liefde van haar ouers en sibbe.

Reeds van kleintyd was sy lief vir die verhoog en stories vertel. Sy is ná skool aanvanklik na die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein, maar ná ‘n paar draaie op die rooi tapyt is sy geskors en sy het haar studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

Een van haar lektore, die veteraan-akteur Carel Trichardt, was een van die gaste, en hy het gesê hy het van die begin af geweet sy het ‘n besonderse talent.

Ander gaste was Coenraad Rall, haar vriend en jare lange begeleier, asook Karen Meiring, Saartjie Botha en Margit Meyer-Rödenbeck – almal mense wat Amanda al jare deur die kunste ken.

Amanda het oor die beginjare van haar loopbaan gepraat en het met rou eer- likheid vertel van die miskraam wat sy gehad het terwyl sy met die kopieskrywer Jeff Nauss getroud was. Sy het by haar ooievaarspartytjie in Port Elizabeth begin bloei. Later in Johannesburg het haar ginekoloog haar meegedeel die baba, ‘n seuntjie, lewe nie meer lewe.

“Ek dink nie ek het dit ooit verwerk nie,” het sy gesê.

Kort daarna het sy egter die rol van die Poolse sangeres Elzbieta Karski in die TV-reeks 1922 gekry en het sy, soos sy dit stel, soos aan ‘n stuk dryfhout daaraan geklou.

“Dit was een van die wonderlikste rolle wat ek nog vertolk het,” het sy gesê.

Amanda het deur haar pyn gewerk en meer werk gekry, maar alles het ‘n dramatiese wending geneem toe sy aan die einde van ‘n konsert by die Oude Libertas in 1986 “amandla!” uitgeroep het.

“All hell broke loose,” het Amanda gesê.

Die skrywer Hennie Aucamp – Amanda noem hom “Meester” – het ná die vertoning na haar toe gekom en gesê sy moet besef niks gaan weer dieselfde wees nie.

“Ek het probeer cope daarmee – soos met die miskraam; dit probeer onderdruk, onderdruk . . . maar as ‘n mens se psige te veel aanhou om die seer – die vernedering, dit wat jou siel vertrap het – te onderdruk, is jy besig om ‘n bom in jouself op te bou … ‘n bom wat onwrikbaar een of ander stadium gaan ontplof.”

Hierdie episode was nie net ‘n program met staaltjies en sielstories nie. Amanda het ook dele van haar gewildste liedjies gesing, soos “Ek loop die pad”, die eerste liedjie wat sy geskryf het.

“Dit is soos ‘n genesing wanneer jy skryf oor iets wat eintlik seer binne jou is en dan ook ‘n sin vir humor daaroor het,” het sy gesê.

Amanda het in haar 46 jaar in die bedryf nooit haar siel verkoop nie en bly dankbaar vir elkeen wat een van haar vertonings bywoon. Al het sy al pryse vir haar lewensbydrae tot die vermaaklikheidsbedryf gekry, is sy nog lank nie klaar nie, het sy gesê en geglimlag.

Die derde seisoen van Net mens behels drie episodes. Hierdie was die tweede episode. In die derde episode, wat volgende Sondag 20 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word, is die aktrise Hanna Grobler die gas.

Die volledige reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article