Opgewerkte emosies, ou geykte stellings en ongegronde veronderstellings laat mense baie keer kant kies – hetsy dit nou oor ’n oorsese oorlog of plaaslike kwessie gaan, kritiseer maklik almal en besluit watter kant (of mens) meer waarde dra as ’n ander.
So verloor ’n gemeenskap net, want ’n sin van samesyn en wedersydse liefde gaan verlore weens ’n vals waas van “geregtigheid”.
As ’n hawelose vir vandalisme aangekeer word, wil sommige hom pamperlang, na sy emosionele welstand omsien en hom “op die regte pad help”. Ander wil hom agter tralies sien vir die deurlopende skade wat hy, skynbaar sonder keer, aan sakeondernemings aanrig. Is albei sieninge dalk reg?
Uiteenlopende menings dra baie keer by tot groot misverstande wat vermy kon gewees het as mense net bereid was om eerstens na mekaar te luister – nié luister in afwagting vir ’n spreekbeurt nie, maar opreg met omgee.
Tweedens moet hande gevat word. Die gesamentlike wetstoepassingsveldtog verlede week in Vredenburg is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Die onderskeie afdelings, soos die polisie, verkeer, buurtwagte en veiligheidsmaatskappye, het saam-saam pamflette aan motoriste in vroegoggendverkeer uitgegee.
Ook die herstel van die Vredenburg-gholfbaan was ’n gesamentlike poging deur die gholfklub-personeel en die Saldanhabaai-munisipaliteit.
Die vroue van die Inner Wheel Saldanha help op hul beurt ander liefdadigheidsorganisasies om gapings te vul.
So wen almal as mense saamstaan.
Kom ons praat mekaar hierdie week wat voorlê, moed in, vat hande en bou mekaar geestelik op, eerder as wat ons onmin saai en op mekaar se verskille konsentreer.