Akademia, ’n onafhanklike hoëronderwysinstelling uit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, se departement tale en kultuurwetenskappe, soos gesetel in die fakulteit geesteswetenskappe, groei ongelooflik.
Dié departement het Maandag (2 September) aangekondig hy sal die instelling se tweede honneursprogram van 2025 af aanbied.
Die?BA Hons (media en kommunikasie) sal in Afrikaans via die voltydse kampusmodel op die instelling se Centurion-kampusse aangebied word.
Volgens dr. Alé Steyn, departementshoof vir tale en kultuurwetenskappe by Akademia en die koördineerder van die nuwe program, verteenwoordig die toevoeging van hierdie nagraadse program – ’n eerste vir die fakulteit én die departement – ’n spesiale hoogtepunt.
Dit is die tweede program wat vanjaar in die departement bekendgestel word nadat die voorgraadse BA (taalstudies)-program in April aangekondig is.
Steyn verduidelik dié program sal studente toerus met diepgaande teoretiese kennis en gevorderde praktiese en kritieke vaardighede om ’n kritieke rol in veranderende en uitdagende kontekste as vaardige en aanpasbare media- en kommunikasiepraktisyns te vervul.
Studente sal voorts die geleentheid hê om in strategiese kommunikasiebestuur óf joernalistiek te spesialiseer. Volgens Steyn sal afgestudeerde studente gevolglik nie net vaardig wees nie, maar ook oor die vermoë beskik om gefokus te besin oor die media- en kommunikasiebedryf om só sinvolle en positiewe bydraes in hul gemeenskappe te lewer.
Dié BA hons-program val op NKR-vlak 8 en fokus op die ontwikkeling van vaardighede wat studente sal nodig hê om in die snelveranderende postdigitale tydvak te kan werk.
Hierdie vaardighede sluit onder meer in digitale en datageletterdheid, die vermoë om doeltreffend te kommunikeer, multidissiplinêre samewerking, kritiese en sosio-emosionele vaardighede, asook die vermoë om komplekse inligting te verwerk en ’n hoë kognitiewe werklading te bestuur.
Die tipiese beroepe wat ná die voltooiing van die program gevolg kan word, sluit in: joernalistiek, mediabestuur, sosiale media, openbare skakeling, die advertensiewese, kommunikasiebestuur, die uitgewerswese, opvoedkunde, digitale media, navorsing én die openbare sektor.
“Gehalte-opleiding vir media- en kommunikasiepraktisyns is nie ’n luukse nie – dit is ’n noodsaaklikheid,” meen Steyn.
Sy verduidelik as spesialiste sal diesulke praktisyns sentraal staan in ’n gesonde demokrasie en samelewing.
“Hoewel die basiese vaardighede steeds kernbelangrik is, moet studente ook ander noodsaaklike vaardighede ontwikkel ten einde in hierdie bedryf te kan floreer,” sê Steyn.
Volgens prof. Danie Goosen, waarnemende dekaan van die fakulteit geesteswetenskappe, voorsien Akademia met die bekendstelling van dié nuwe honneursprogram in ’n besondere behoefte onder studente.
Hy voeg by dat die toevoeging ook ’n noodsaaklike stap verteenwoordig om uiteindelik die instelling se droom te verwesenlik om nagraadse kwalifikasies soos meesters- en doktorale grade in die fakulteit aan te bied.
“Die departement het nog baie planne vir die toekoms en werk reeds volstoom aan nóg voorgraadse en nagraadse programme – onder meer ’n meestersgraad wat op die BA hons (media en kommunikasie) sal volg.”
Indien jy belangstel om jouself verder in die media- en kommunikasiebedryf te bekwaam, besoek gerus Akademia se webblad vir meer inligting.
Studie-aansoeke vir die 2025- akademiese jaar is reeds oop.
Let daarop dat slegs ’n beperkte aantal studente tot dié nuwe program toegelaat sal word en die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Oktober 2024.