: Van links is Wouter van Schaik (Star Motor Group), Renier Swart (Star Motor Group), Mario Green (Weskus Sakekamer), Etienne Coetzee (AHI), Hester Davis (AHI), Ryk Neethling (Star Motor Group), Johan Gous (Gous Specialised NDT) en Johann Rheeder (Nissan-handelaarshoof).


Etienne Coetzee, die voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI), het Vrydag 11 Maart Vredenburg besoek.

Die doel van die besoek was om plaaslike sakelui te ontmoet en meer te wete te kom oor sakegeleenthede en ekonomiese groeipotensiaal aan die Weskus.

Die netwerksessie het plaasgevind by die Nissan-handelaar op Vredenburg. Coetzee, sowel as Hester Davis en Lappies Labuschagne, het die AHI verteenwoordig. Die Weskus Sakekamer is verteenwoordig deur die ondervoorsitter, Mario Green.

Johan en Lana Gous van Gous Specialised NDT het die geleentheid bygewoon as plaaslike besigheidseienaars.

Voormalige Olimpiese gouemedaljewenner Ryk Neethling was ook deel van die geselskap.

Neethling is ’n direkteur van die Star-motorgroep saam met onder meer Renier Swart en handelaarshoof Johan Rheeder, wat onlangs die Nissan-tak oorgeneem het.

Coetzee het in sy toespraak gesê hy haal sy hoed af vir mense wat in dié moeilike finansiële tye besighede oopmaak. Tog voel hy ’n seisoen van ekonomiese insinking is ’n uitstekende tyd om sakegeleenthede aan te pak, aangesien “die kaf van die koring geskei word”.

Hy meen ’n onderneming wat in moeilike tye kan oorleef, sal beslis in goeie tye bo die kompetisie uitstyg. “Mense gaan binnekort weer begin karre koop, so daar moet nóú hard gewerk word om gereed te maak vir die volgende golf,” het hy met betrekking tot die huidige insinking in die motorbedryf gesê.

Mario Green het uitgebrei oor die Weskus Sakekamer en gesê die gebied het genoeg potensiaal om “sakegeleenthede vir almal” te skep. Hy voel ook die Weskus Sakekamer het tans ’n gebrek aan diversiteit.

Coetzee het gesê hy is ná dese geprikkel oor sakemoontlikhede aan die Weskus en sal graag weer in die toekoms die gebied wil besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article