St. Helenabaai het Saterdag (10 Augustus) met sy 37-20- oorwinning oor Mamre in die Agterbaai sy hand hoog opgesteek vir ’n plek in die uitspele. St. Helenabaai, of die Albatros soos die span ook bekendstaan, het behoorlik hoog gesweef.
Die tuisspan het effens gesukkel in die eerste helfte en is behoorlik deur die besoekers in die vaste skrums oorheers. Mamre het die wedstryd teen ’n vinnige tempo begin en was ook gou 3-0 voor. St. Helenabaai het egter met hardlooprugby geantwoord en binnekort die voortou met ’n onverdoelde drie geneem.
Die eerste helfte het egter in ’n wipplankstryd ontaard en die spanne het gaan water drink met die telling 20-20.
Die tweede helfte was egter eenrigtingverkeer, met die tuisspan wat die besoekers op die agtervoet gehou het.
Die tuisspan het kort na mekaar twee geelkaarte gekry, maar Mamre kon dit nie tot sy voordeel gebruik nie. Die Groentruie van Kenny Stadler se dissipline het daarna ook gelol en twee spelers van die besoekers is ook kort ná mekaar met geelkaarte afgestuur.
St. Helenabaai, wat tans die derde plek op die punteleer beklee, het ’n wedstryd minder as die voorlopers en sy lot is nou in sy eie hande. Die span reis die naweek na Hopefield en net ’n bonuspuntoorwinning sal goed genoeg wees.
Alle paaie lei egter die naweek na Vredenburg, waar die twee topspanne mekaar sal pak. Die wenner sal sy een hand solank stewig op die streektitel plaas. Vredenburg is tans stert in die lug ná sy oorwinning oor Paternoster op dié se tuisveld die naweek.
Saldanha het ’n blaaskans geneem en hou altyd sy beste vir laaste. Die span sal gewis sy merk teen die Burg Boys wil laat.
Met die seisoen wat vinnig einde se kant toe staan en met vier wedstryde oor, het Paternoster (vierde) en Hopefield (vyfde) steeds ’n wiskundige kans – indien die spanne bo hulle al hul wedstryde verloor.
Paternoster begin sy finale aanslag hierdie naweek wanneer hy na die Cove reis. Die Cove het die naweek in ’n wegwedstryd teen Velddrif vasgeval. Hy sal verlore aansien wil herwin en kan Pato se aanslag knou.
Young Hearts het Piketberg op die Grafkelder gesink en reis die naweek na Mamre vir ’n kookwater-derby.
Volledige uitslae:
. Weskus
Paternoster 21-23 Vredenburg, Young Hearts 33-0 Piketberg, St. Helena 37-20 Mamre, Velddrif 37-12 Steenberg’s Cove en Langebaan 12-19 Hopefield.
.
Swartland
Goodhopes 20-19 Never Despairs, Villagers Wittewater 55-38 Riebeeck United, Porterville 27-10 Saron en Abbotsdale 24-27 Darling.