Agri’s Got Talent (AGT) is terug vir die 12de seisoen – en inskrywings is nou amptelik oop. As jy in die vrugte-, wyn- of sitrusbedryf werk en ‘n passie vir sang het, is dit jou kans om te skitter.
AGT is nie net ‘n sangkompetisie nie – dit is ‘n lewensveranderende reis van selfontwikkeling, selfvertroue en gemeenskapsbemagtiging. Dié projek word in samewerking met Hortgro, die Sitrus-kwekersvereniging, SA Wine, die Suid-Afrikaanse Tafeldruifvereniging en die Wes-Kaapse departement van landbou aangebied. Enige landbouwerker wat in die sagtevrugte-, tafeldruif-, sitrus- en wynbedrywe in Suid-Afrika werk – voltyds of seisoenaal – kan inskryf.
Finaliste ontvang professionele stem- en sosialemedia-opleiding, woon self-
ontwikkelingswerksessies by, kry
make-overs en sal van 14 tot 19 September aan ‘n opleidingsweek in die Wes-Kaap deelneem. Dit alles lei tot ‘n skouspelagtige AGT-gala-eindronde, waar die Top-10 op die verhoog voor ‘n beoordelaars-paneel en gehoor optree.
Baie voormalige deelnemers het persoonlik, kreatief en professioneel gegroei op maniere wat hulle nooit sou kon voorsien nie – danksy hul deursettingsvermoë en die platform wat AGT bied.
Victor Fredericks, ‘n produksievoorman op die Speenvlei-plaas in Wolseley, is met ‘n pen in die hand gebore. Hy is ‘n gepubliseerde skrywer en liedjieskrywer wie se literêre werk sy debuutdigbundel, Ons stryd was ook in Afrikaans (2001), Voetpad oor Witzenberg (2020), en Laat Pa vertel (2022) insluit. Hy was ‘n Top-10-finalis in AGT 2018 en ‘n bekroonde kunstenaar by AGT se 10-jaar- reünie-konsert in 2023 by die ikoniese Afrikaanse Taalmonument-amfiteater.
Sedertdien het Victor by die ATKV-
mentorskapprogram aangesluit en
enkelsnitte opgeneem, insluitend
“Boland Blues” en “Blackberry Juice & Jin” (uitgereik op 2 Mei). Hy het ook op 16 Mei saam met Corlea Botha, Eulanda Wagner en Riku Lätti by die Daisy Jones-teater opgetree.
“AGT was vir my ‘n goeie wegspringblok om groter dinge te bereik,” sê
Victor. “Moenie dat jou omstandighede jou terughou nie. Gebruik elke geleentheid, glo in jouself en werk hard.”
Jason Baartman, ‘n produksie-assistent by Laastedrift in Ceres en ‘n ouddeelnemer van AGT, inspireer steeds. Hy is in 2023 vir die gesogte ATKV-Crescendo-program gekies. Teen 2024 het hy na AGT teruggekeer – nie as deelnemer nie, maar as mentor en beoordelaar. Hy het ook die tweede keer saam met Frieda van den Heever by die Woordfees opgetree – ‘n ervaring wat hom na aan die hart lê.
In 2025 was hy weer op die Oesfees-verhoog en het aan die Suidoosterfees-kompetisie deelgeneem. Hoewel hy nie gewen het nie, het hy vriendskappe en kreatiewe vennootskappe gevorm wat ‘n leeftyd sal hou. “Daar is soveel mense wat in my en my musiek glo,” sê Jason. “Ek kan nou nie opgee nie. Gryp jou drome vas – want as jy wakker word, is hulle dalk weg.”
Chanthel Boonzaaier, die naaswenner in AGT 2024, tree nou internasionaal op. Sy het die wingerde van Franschhoek vir die gasvryheidsverhoë van Griekeland verruil, waar sy in ‘n trio, genaamd
Legends, optree en Whitney Houston- liedjies sing saam met kunstenaars wat hulde bring aan Wilson Pickett en Lionel Richie.
Chanthel beskryf AGT se opleidings- week as ‘n oomblik van diepe transformasie. Met ondersteuning van Procare se Petra Nel het sy weer helderheid en selfvertroue gekry oor hoe sy haarself in die wêreld wil bewys.
“AGT het my gehelp om die mens te sien na wie ek streef om te wees,” sê sy.
Inskrywings sluit op 31 Julie.
Om in te skryf, stuur ‘n stemboodskap (maksimum 3 minute) via WhatsApp na 082 372 1577 of e-pos jou opname na info@agrisgottalent.com met jou volle naam, geboortedatum, selfoonnommer, naam van jou plaas / kelder / pakstoor, posbeskrywing, hoe lank jy daar werk, naaste dorp, en jou toesighouer se naam en selfoonnommer.


