Aflegging gaan met vrees en verleentheid gepaard.

Met die sluiting van Saldanha Staal en talle ander sakeondernemings wat swaar trek, is afleggings ongelukkig iets wat vele Weskussers raak.

Geld-ghoeroes het ’n paar wenke om werkers deur die proses te help totdat hulle nuwe werk kry:

1. Maak kontak met jou krediteure –verduidelik jou situasie. In baie gevalle kan krediteure jou tegemoet kom. Dit is een van die eerste oproepe wat gemaak moet word wanneer jy uitvind jy word retrench.

2. Noodfonds – gevalle soos hierdie is hoekom almal minstens vir drie tot ses maande se uitgawes moet spaar. Noodsaaklike onkostes kan met dié geld gedek word.

3. Stel ’n oorlewingsbegroting op as jy nog nie een het nie. Hierdie begroting is die mees basiese begroting wat ’n gesin sal moet volg om te oorleef. Uitgawes soos wegneemetes, nuwe klere en uitstappies sal vir eers opsy geskuif moet word.

4. Gebruik jou Werkloosheids­versekeringsfonds oftewel UIF.

Gewoonlik word ’n maandelikse bydrae van ’n werknemer én ’n werkgewer geneem om dié fonds aan te vul. Nou is die tyd om dit te gebruik.

Vir diegene wat hulself finansieel wil staal teen afdankings, is ’n paar produkte beskikbaar wat sal kan help, meen die geld-ghoeroes.

Finansiële instansies bied produkte wat spesifiek voorsorg tref vir afleggings – sogenaamde “retrenchment protectors”.

Dit kan ’n polis of ’n fonds wees.

Doen deeglike navorsing om te bepaal watter soort “beskermer” jou die beste sal pas.

Afleggings gaan ook met ’n paar moenies gepaard:

– Moenie dink dis jou skuld nie en maak seker jy gesels met iemand daaroor.

– Moenie dink jy het nie opsies nie – krediteure WIL jou geld hê en sal dus poog om jou tydelik te help.

Afdanking is ’n vreesaanjaende ervaring, maar moenie alleen in ’n hoekie sit nie.

Hulp ís beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.