Adriaan op pad Nederland toe

Trap-trap zoem Adriaan van Zyl op sy fiets verby – eers verby die Wes-Kaapse fietsryers, nasionale ryers en nou trap hy al die pad na Nederland.


Trap-trap zoem Adriaan van Zyl op sy fiets verby – eers verby die Wes-Kaapse fietsryers, nasionale ryers en nou trap hy al die pad na Nederland.

Adriaan, ’n graad 8-leerder aan die Hoërskool Hopefield, is vroeër vanjaar gekies vir die Kinetic Cycling-span wat aan die Europese junior fietstoer in Asse, Nederland, gaan deelneem. Hy is ook die April-wenner van Weslander en SuperSport se Let’s Play-kompetisie.

“Ek was nie regtig goed in enigiets nie, maar toe ek begin fietsry, was dit anders. Toe ek begin deelneem, was ek 12 jaar oud terwyl die ander ouens al 14, 15 was. Maar ek het intussen groter geraak,” sê hy.

En dit blyk toe Adriaan eers op sy fiets klim, daar geen keer aan hom was nie. Hy neem deel aan beide pad- en MTB-fietsrykompetisies.

Sedert die begin van die jaar het Adriaan aan nege kompetisies deelgeneem en in almal van hulle geseëvier.

Die fietsryer bly egter nie net trap nie, maar swem en hardloop ook. Rugby moes hy egter laat vaar aangesien die kans vir ’n besering te groot was, verduidelik sy ma, Brenda.

Adriaan sê van al die kompetisies wat hy gewen het, was een van sy fietsry-hoogtepunte tot dusver om aan Darling Enduro by !Khwa ttu deel te neem. “Jy ry 24 uur so lank as wat jy kan. Dit was ’n toets van uithouvermoëns. Ek het dit veral geniet om in die aand te ry,” verduidelik hy.

Hy sê die moeilikste wedren wat hy tot dusver aangepak het, was die nasionale kampioenskap. Maar, sê hy, sy “kop was reg” vir daardie kompetisie.

“Dit is soms moeilik om positief te bly, daarom moet jy seker maak om jou kop reg te kry.

“Jy moet ’n sport doen wat jóú gelukkig maak. Moet jou nie veel steur aan wat ander mense dink of sê nie. Die belangrikste is wat jy van jouself dink.

Hy verduidelik verder: “Aan die begin van die jaar het ek eers gefokus op die WP-kompetisie en om dié span te haal. Daarna was dit die SA kampioenskap en nou fokus ek op Nederland.

“Daarna sal ek nuwe doelwitte vir myself begin opstel.”

You need to be Logged In to leave a comment.