Lemfvia Craill het die derde plek in die hoërskoolafdeling by die 2022 Solidariteit Onderwyser van die Jaar-kompetisie gewen.Foto:


Lemfvia Craill was ongelooflik dankbaar vir die geleentheid om deel van die 2022-Solidariteit Onderwyser van die Jaar-kompetisie te wees.

Craill, die adjunkhoof van die Hoërskool Vredenburg, is verlede jaar as ’n finalis in die hoërskool-afdeling van die kompetisie aangewys.

Sy het uiteindelik die derde plek algeheel ingeneem.

“Die wenner is reeds in Desember aangekondig. Ons ander plekwenners het eers onlangs uitgevind. So, ek was baie aangenaam verras. Ek is trots op myself,” vertel Craill.

Sy sê toe sy die nuus ontvang, was sy te opgewonde om enige ander vrae te vra. Sy verduidelik dat ’n hele paar komponente in ag geneem was vir haar derde plek, naamlik die benoemingstydperk, die aanvanklike keuringsproses, die publiek se stemme, ’n persoonlike opsommingsvideo, finale keuring, die stemproses en meer.

“Dit was ’n baie groot voorreg om ’n finalis te kon wees en om net belangrik genoeg geag te word en dat iemand voel ek beteken genoeg vir kinders in die onderwys. Ek dink dit is meer ’n persoonlike oorwinning wat ’n mens behaal en wat jouself verder motiveer dat dit wat jy doen, tog waarde het en vrug kan dra.

“Solidariteit is ’n wonderlike organisasie met verskeie platforms wat regtig baie vir onderwysers, leerders en die gemeenskap kan beteken. Hierdie is ’n baie positiewe motivering vir myself veral vir daardie dae dat ’n mens wonder of jy ooit nog ’n invloed op iemand (’n kind) se lewe het.”

Wanneer dit by die onderwys kom, sê Craill dit het soveel uitdagings. “[Dit is] soos golwe wat jou onverwags soos ’n tsoenami tref en dit regtig ’n uitdaging maak om daagliks gemotiveerd te wees.

“Maar daar is ook net soveel skitterende blom-ervarings wat die onkruid in die tuin heeltemal laat kwyn.”

Sy moedig onderwysers aan om die uniekheid in elke kind voor hulle te sien.

“Bly gemotiveer in die wete dat jy as ’n onderwyser nie net ’n sif vir leerders is om hulle te help om tussen reg en verkeerd te onderskei nie, maar jy is ook vir baie ’n warm kombers, ’n Yskoue Powerade of ’n vangnet. En ja, selfs ’n aansteekbord teen wie hulle hul trotse oomblikke, oorwinnings, prestasies en mylpale wil vassteek.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025