Aansoek met koste van hand gewys

Sunrise Energy reken as Avedia Energy voortgaan met sy “riskante” metode van die hantering van vloeibare petroleumgas (VPG) by die Saldanha-hawe, is daar ’n groot kans van ’n “verwoestende ontploffing”.


Sunrise Energy reken as Avedia Energy voortgaan met sy “riskante” metode van die hantering van vloeibare petroleumgas (VPG) by die Saldanha-hawe, is daar ’n groot kans van ’n “verwoestende ontploffing”. Avedia Energy meen egter Sunrise Energy se aantygings het nie meriete nie en sy “geveg” teen Avedia gaan eerder daaroor dat hy sy monopolie in die VPG-sektor in die Wes-Kaap wil behou. 

 Sunrise Energy het verlede Donderdag die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Durban genader met betrekking tot ’n dringende interdik wat daarop gemik is om te verhoed dat Avedia Energy voortgaan met die manier waarop hy vloeibare petroleumgas (VPG) in die Saldanha-hawe aflaai en hanteer.Volgens Pieter Coetzee, uitvoerende hoof van Sunrise Energy, is Avedia Energy se hanteringsmetode van vloeibare petroleumgas van skip tot vragmotor “hoogs riskant”. “Hierdie aansoek volg op ’n vroeër beslissing op 16 September deur ’n tribunaal van die Durbanse hawe-reguleerder, wat Avedia Energy toegelaat het om onderontwik­kelde en argaïese meganismes te gebruik om hoogs vlambare vloeibare petroleumgas direk van skepe na vragmotors oor te dra. 

“As hierdie operasies toegelaat word, hou dit ’n onaanvaarbaar hoë veiligheidsrisiko vir die hawe van Saldanha en die omliggende gemeenskappe in,” aldus Coetzee.Volgens Coetzee bedryf Sunrise Energy ’n “hoogs gesofistikeerde aflaaipunt met behulp van wêreldgehalte tegnologie en beste praktyke en laai sy VPG-vragte deur middel van ’n meervoudige boei-vasmeerstelsel in die Saldanha-hawe af. “Die fasiliteit, wat ’n foutlose veiligheidsrekord het, is beskikbaar vir alle hawegebruikers en is ontwerp om aan internasionale veiligheids- en doeltreffendheidstandaarde te voldoen,” verklaar hy.“Dit is kommerwekkend dat Avedia Energy jare lank al onredelik weier om van hierdie beskikbare fasiliteite gebruik te maak en het volgehou met hul hoërisiko- en uiters ondoeltreffende aflaai-aktiwiteite.”

Hy reken dis “pure geluk dat ‘voorvalle’ by Avedia Energy se aflaai-kaai nie ’n verwoestende ontploffing veroorsaak het nie”. Neil Josiah, nasionale bemarkingsbestuurder van Avedia Energy het Dinsdag aan Weslander gesê verlede week se hooggeregshofaansoek is “met koste van die hand gewys”.“Die belangrikste punt wat ons wil beklemtoon, is dat die saak regtig gaan oor Sunrise Energy se pogings om mededinging in die VPG-sektor in die Wes-Kaap te voorkom deur ’n monopolie te hou,” het Josiah verduidelik. “Sunrise Energy het reeds met verskeie pogings in die hof misluk om te verhoed dat Avedia Energy operasioneel is.”Volgens Josiah beskik Avedia oor ’n lisensie van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) om die skip-na-vragmotor-metode te gebruik.

“Nersa sou nie die metode ondersteun het as dit as onveilig beskou word nie. Alle toepaslike vereistes word gevolg om te verseker dat die proses soos enige ander gedoen word met die strengste veiligheidsmaatreëls wat aan die hawe-owerheid Transnet Port Authority se vereistes voldoen. Die aflaai van VPG van skepe na vragmotors is ’n standaardpraktyk wat in verskillende dele van die wêreld gedoen word.” Volgens die tribunaal se beslissing, wat ten gunste van Avedia is, waarna Coetzee van Sunrise Energy ook verwys, “lyk dit asof Avedia gedwing word om Sunrise se fasiliteite te gebruik teen tariewe wat nie ekonomies vir Avedia is nie.”Kabeko Kgobisa, woordvoerder van Sunrise Energy, het Dinsdag aan Weslander gesê daar het sedert verlede Donderdag se hofaansoek verwikkelinge plaasgevind.

Amptelike terugvoering hieroor het egter nie Weslander betyds voor druktyd bereik nie. 

You need to be Logged In to leave a comment.