A-kandidaat is trots op uitslae

“Dit gaan nie oor hoe slim jy is nie, maar oor hoe hard jy werk.”.


“Dit gaan nie oor hoe slim jy is nie, maar oor hoe hard jy werk.”

Só sê Pollen Nkololwane (20), ’n matrikulant van Hoërskool Louwville wat ná sy matrieke­ksa­men in 2017 ’n A-gemiddelde ver­werf het. Wat dié prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat hy nie in sy laer grade as ’n aka­demiese presteerder uitge­staan het nie.

Pollen wat dwarsdeur sy hoërskoolloopbaan C- en D-simbole gekry het, het in graad 11 almal verras en die A’s een vir een begin uitryg.

Een akademiese prestasie in graad 11 het vir hom die lig laat sien. Dit het so lekker gevoel dat hy besluit het om harder te begin werk. En die res is ge­skie­­de­­nis . . .

Hy is terloops Hoërskool Louwville se eerste matriek met ’n A-gemiddelde sedert die skool in 2012 sy deure oopgemaak het.

Hoërskool Louwville se slaagsyfer is vanjaar 65,5%, ’n aansienlike verbetering op verlede jaar se 52,2%.

Pollen is teleurgesteld in die uitslae. “Ek het meer verwag, want die onder­wysers het baie vir ons gedoen,” sê hy.

Die leerders van die skool kom uit ’n gemeenskap met baie uitdagings soos misdaad, dwelmmisbruik en armoede.

“Hulle (sy medeleerders) het nie ’n visie nie en besef nie dat hulle baie potensiaal het nie. Ek het amper te laat besef . . . ,” erken hy.

Pollen woon sedert sy graad 7-jaar saam met sy enkelma in Laingville. Sy ma werk by die Westpoint-visfabriek in St. Helenabaai en het drie kinders met haar skamele inkomste grootge­maak.

Pollen het voorheen by sy ouma in die Oos-Kaap gewoon, maar sy het siek geword en Pollen moes noodgedwonge Weskus toe trek. Hy het sy laerskool­loopbaan by St. Helenabaai Primêr voltooi en is daarna by Hoërskool Louwville ingeskryf.

Pollen sê dit was ’n groot verrassing toe hy in die Weskus kom en besef hy is ouer as sy skoolmaats. In die Oos-Kaap het hy glo graad 1 en graad 2 gedoen, daarna het hulle getrek. By die nuwe skool in ’n baie klein dorpie is daar besluit hy is te jonk vir graad 3. Hy moes weer by graad 1 begin.

“Skole is baie anders daar,” erken hy.

Pollen voel plaaslike kinders moet dankbaar wees vir die gehalteonderwys in die Wes-Kaap. Hy weet nie of die onderwys sedert sy laer­skooljare in die Oos-Kaap al verbeter het nie.

Pollen het ’n vol beurs by die Universiteit van Johan­nes­burg gekry waar hy regte gaan studeer. Hy beplan om hard te swot, ’n deeltydse werkie te kry om sakgeld te verdien en sy my ma som­mer baie trots te maak. En natuur­lik sal hy gereeld kom kuier. Sy boodskap aan vanjaar se matrieks: “Leer hard en maak ’n sukses van jou jaar.”

You need to be Logged In to leave a comment.