Hy sal nooit weer sy bakkie kos na skool huis toe kan bring om met sy klein sussie te deel nie.
Niemand sou kon raai dat die negejarige Eldeano September se lewe so vroeg kortgeknip sou word nie. Eldeano is Woensdag 20 Julie so te sê reg voor sy ouerhuis in Louwville deur ’n motor getref en noodlottig beseer.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, word ’n klagte van strafbare manslag ondersoek nadat Eldeano na bewering omstreeks 14:30 van die bus afgeklim het ná skool en deur ’n Isuzu-bakkie getref is.
Eldeano was ’n leerder by Karitas Spesiale Skool in Vredenburg en volgens sy klasonderwyseres, Reona Farmer, het hy almal se lewe op die een of ander manier geraak. Hy was by die skool as “kleintjie” bekend omdat hy so klein was. Farmer sê hy het diep in almal se hart gekruip.
“Vir kleintjie was enigiets kleins baie spesiaal. Al het jy hom net ’n rand gegee, was jy in sy oë die beste mens in die wêreld. Hy was baie lief daarvoor om sy bakkie kos huis toe te neem om met sy jonger suster te deel. Dit was hartseer om te sien hoe die bakkie kos net ’n klein afstand van sy lykie gelê het, vertel Farmer.
“Hy wou net liefde gehad het en het baie liefde gegee; dis al wat hy wou hê.”
Farmer vertel Eldeano was baie bekend onder sy onderwysers en die tyding van sy dood het hulle hard getref. Sy moedig ouers, onderwysers en enige rolspelers om by jonger kinders se lewe betrokke te word en ’n voorbeeld te wees, en voeg by sy gaan sy sprankelende persoonlikheid, eerlikheid, seepgladde mond en die klein goedjies wat hy altyd gesê het, mis.
Sy ma, Desiré September, sê die huis is nou stil en daar is ’n groot leemte. “Hy was ’n woelige en bedrywige kind, hy het altyd op alles geklouter. Wanneer hy uit die skool gekom het, kon hy altyd ’n lang storie vertel van die dag se gebeurtenisse,” vertel sy.
Sy pa, Ricardo Demingo, het in trane met Weslander gedeel dat hy sy seun vreeslik gaan mis.
“Hy het altyd langs my geslaap en sy plekkie is nou leeg langsaan my.” “Een ding is vir seker – Eldeano sal nooit vergete gaan nie. Sy dood het die Vredenburg-gemeenskap diep geraak,” het Farmer afgesluit. Die begrafnis is Saterdag 30 Julie om 11:00 by die kerk in Hopland, Vredenburg.


