Suid-Afrikaners oor die land heen treur oor die dood van die legendariese Danie Odendaal (77).
Bekend vir die vervaardiging van sepies soos 7de Laan en Egoli, is Odendaal op Woensdag 30 Oktober in Langebaan dood. Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie.
In ’n amptelike persverklaring sê Daniël Kriel, ’n familieverteenwoordiger dat dit met diepe hartseer is dat hulle die afsterwe van Odendaal aankondig wat op 30 Oktober vreedsaam gesterf het in Langebaan, waar hy die afgelope ses jaar gewoon het, saam met sy geliefde vrou, Annie Odendaal.
“Danie het ’n lewe vol kreatiwiteit en warmte gelei en die wêreld rondom hom stilweg gevorm deur sy storievertelling. Bekend vir sy humor en geestigheid, het hy ’n manier gehad om sy mening te lug wat diegene geïnspireer het wat gelukkig genoeg was om hom te ken.
“Sy bydraes tot televisie en teater in Suid-Afrika het die weg gebaan vir ander en sy nalatenskap skyn helder deur 7de Laan, ’n geliefde sepie wat die harte van so baie verower het. Dit staan ??as ’n vuurtoring vir sy artistieke gees en mense-eerste benadering,” het die verklaring gesê.
Medelye deur akteurs van 7de Laan, liefhebbers van die sepie en ander in die industrie het sedert sy sterfte ingestroom. Die bekende Noot vir Noot se aanbieder en vervaardiger Johan Stemmet, wat ook in Langebaan bly, meen die sterfte van Odendaal is ’n jammerte. Dié twee het mekaar redelik goed geken en het destyds saam by die SAUK gewerk. Stemmet was ook betrokke by baie ander van Odendaal se programme. “Dit is regtig ’n jammerte en hy het te vroeg gegaan. Al het hy uitgetree kon hy steeds ’n bydrae lewer, veral by sepies,” sê Stemmet.
Nobuhle Mahlasela awat die rol van Aggie in 7de Laan vertolk het het geskryf; “rus saag Oom Danie Odendaal. Dankie dat jy 18 jaar gelede ’n kans op my geneem het! Wat bedoel was om ’n cameo-rol te wees, wat gedraai het in die grondslag van my loopbaan reis. Aan Annie Basson en die hele familie my innige meegevoel.”
Christo Davids wat die rol van Errol vertolk het sê Odendaal was die kalmste mens in die bedryf wat hy al teëgekom het. “Hy het ’n innerlike liefde vir storie en sy karakters gehad. Met die rol van Errol het Danie my die geleentheid van ’n leeftyd gebied en ek sal hom ewig dankbaar wees daarvoor. Hy het ’n karakter geskep wat mense tot vandag toe nog onthou en hy het my die vryheid gebied om die karakter my eie te maak. Danie was 7de Laan. Danie het my ook die kans gegee om myself te skoei as regisseur op 7de Laan. Hy het in die aand die ateljee beskikbaar gestel vir my om my toneelstukke te repeteer vir kunstefeeste. Rus sag oom Daan, dit was niks minder as ’n eer om met jou paaie te kruis. Jy het my lewe A for Away gemaak.”