4 Spesiale Magte Langebaan kry nuwe bote

’n Hardnekkige sjampanjebottel het sy Moses tog teë gekom teen een van drie nuwe weermagbote met hul amptelike oorhandiging aan 4 Spesiale Magte-eenheid Langebaan.


Lt.kol. JP de Wet doop die Viking II.

’n Hardnekkige sjampanjebottel het sy Moses tog teë gekom teen een van drie nuwe weermagbote met hul amptelike oorhandiging aan 4 Spesiale Magte-eenheid Langebaan.

Veecraft Marine van Kaapstad het Woensdag 25 Oktober amptelik drie bote, na bewering ter waarde van sowat R40 miljoen, by hul Donkergat-basis aan die eenheid oorhandig. Armscor het die bouprojek bemiddel.

Lt.Kol. JP de Wet van 4 Spesiale Magte Langebaan het tydens die doop en oorhandigingseremonie die grootste van die bote, die Viking II, se naam onthul. Op elke boot het ’n offisier of ’n onderoffisier die seremoniële seilbedekking afgetrek, soos wat die boot se naam aangekondig is. 

Genl. Solly Shoke, nasionale weermaghoof, moes daarna die sjampanjebottel, wat aan ’n tou vasgemaak was, teen Viking II se kant stukkend gooi, soos die tradisie in die vloot bepaal. Dit het drie keer teen die kant gekap sonder om te breek.

 

De Wet het einde ten laaste opdrag gekry om dit self te breek, wat hy gedoen het. “Dit was fantasties,” was sy kommentaar. De Wet was nou betrokke by die hele bootbouprojek, wat dit ’n besondere eer vir hom gemaak het.

 

Die Viking II is 20m lank en 5.5m breed, kan 120 mense vervoer en teen sowat 12 knope vaar. Dit gaan hoofsaaklik vir die vervoer van personeellede en besoekers na en van Donkergat gebruik word.

 

Die kleiner Makana en Maqoma is werksbote van 11m lank en 4m breed. Hulle gaan hoofsaaklik gebruik word om toerusting te vervoer en weermagduikers by te staan. Hulle is toegerus met werksdekke en klein hidrouliese krane.

 

Brigadier-generaal Steve Maloma, nasionale hoof van Spesiale Magte, het by die seremonie gesê die nuwe bote gaan die regiment sowat ’n half miljoen rand ’n jaar gaan spaar aan instandhouding en herstelkoste.

 

Dit was tyd vir nuwe bote, meen stuurman Piet Rodgers (52) van Langebaan. Hy en broers, Frans (46) en Donovan Simerie (47) van Langebaan, is al aan die stuur van die eenheid se ou bote vir bykans dertig jaar, amper so lank as wat die regiment hulle het.

 

Donovan het dan juis die eer gehad om die Viking II met uitgelese gaste en offisiere aanboord, op sy eerste amptelike rit op die Langebaan-strandmeer te neem.

 

Hulle is nog besig met verdere opleiding om die nuwe bote te leer stuur. Donovan meen dat dit so maand of wat sal neem voordat hulle die langer bote gewoond sal raak en soomloos langs ’n kaai tot stilstand sal kan bring.

You need to be Logged In to leave a comment.