Twee hersoneringsaansoeke van twee verskillende kliënte ding mee om die geleentheid om moontlik ’n vulstasie op Dwarskersbos te ontwikkel.

Weslander het verlede week berig oor die voorwaardelike goedkeuring van ’n hersoneringsaansoek met die oog op die ontwikkeling van ’n vulstasie in Dwarskersbos deur AJF Eigelaar & Seuns.

’n Tweede, ouer hersoneringsaansoek vir ’n vulstasie deur Bosspruit Vulstasie Edms. Bpk. op ’n stuk grond net ’n klipgooi verder van die drie saamgevoegde erwe van die reeds goedgekeurde aansoek, is in 2021 ingedien terwyl die AJF Eigelaar & Seuns-hersoneringsaansoek, wat nou goedgekeur is, vanjaar ingedien is. Weslander verneem die Bosspruit-aansoek het ’n paar haakplekke gehad, wat die proses uitgerek het.

Die goedkeuring van die Eigelaar-hersoneringsaansoek behels die samevoeging van erf 151, 152 en 153 en hersonering van die grond kragtens artikel 60 van die Bergrivier-munisipaliteit (BM) se verordening op munisipale grondgebruikbeplanning met die oog op die ontwikkeling van ’n vulstasie.

Die aansoek vir die Bosspruit-vulstasie behels die hersonering van erf 136, 137 en 154, langs die hoofpad, net wes van die Slakkepas-ontwikkeling, vir dieselfde doel.

Die reeds goedgekeurde hersone­ringsaansoek het betrekking op grond oos van die Pretkor-sentrum.

Die goedgekeurde aansoek se grond grens aan die westekant van die Dwarskersbos-Minisupermark terwyl die ander hangende aansoek se grond aan die oostekant aan die supermark grens.

Matthew Sheldon, woordvoerder van die Bergrivier-munisipaliteit (BM), het Woensdag in sy skrywe aan Weslander bevestig dat een van die aansoeke reeds deur die Bergrivier- munisipale beplanningstribunaal goedgekeur is en dat die ander aansoek nog oorweeg word.

“Elke aansoek word op sy eie meriete oorweeg met betrekking tot die kriteria vir besluitneming soos in die relevante wetgewing bepaal,” het Sheldon verduidelik.

“Die proses kan nie vooruitgeloop word nie.”

Johan Moolman, ’n raadslid, het verlede week aan Weslander gesê die munisipaliteit is deeglik bewus van sommige inwoners se teenkanting van die ontwikkeling.

Hy het egter gesê heelparty inwoners voel ’n vulstasie is ’n stap in die regte rigting.

Moolman het ook gesê die tribunaal het die aansoek goedgekeur en die munisipaliteit fasiliteer slegs die proses. Die uitkoms van die ander aansoek moet nog bepaal word.

Hoewel hersonering vir een van die aansoeke goedgekeur is, moet alle dokumentasie en kommentaar eers voor die munisipale raad dien voordat ’n besluit oor die ontwikkeling van ’n vulstasie geneem kan word.

’n Openbaredeelnameproses, omgewingsimpakstudie en die aansoekproses om die nodige permitte en lisensies te verkry, moet nog afgehandel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025